Jaar verslag vir 2019

Jaar verslag vir 2019

Administratief
November 20, 2019


Toneel 2019

Ligte! Kamera! Aksie!

In 2019 lewer ons twee “Broadway”-kwaliteit produksies aan die kultuurliefhebbers en komedie-fundi’s. Trane het gerol – beide op die planke en in die gehoor – lagspiere is geoefen en hande is warm geklap.

In “Skeptisisme, narsiste en optimisme” leer ons ‘n nuwe waardering aan vir elke generasie se ervaringswêreld, met behulp van ‘n tikkie toorkrag. Van oumas wat “speed date” tot tieners wat – ja, jy lees reg – eerder brei as partytjie hou, is elke sort belangstelling gedek.

In ons tweede toneel draai ons die tema na ‘n meer donker een – verraad, ontrouheid en selfs moord! Maar moenie bang wees nie, PNHS het oudergewoonte gesorg vir ‘n komiese perspektief op hierdie swaar temas. Waar het jy al ooit gehoor van ‘n lamsboud as ‘n moordwapen?

PNHS GOT TALENT!

Met ou gesigte, wat al as supersterre gesien word, en nuwe bloed wat verbasende talente getoon het, was 2019 se PNNK ‘n belewing van klank, kitaar en klawers.

Daar is duidelik geen tekort aan sangtalent in PNHS nie, en die inspirasie in elke sanger se items het die asems weggeslaan. Die mees betekenisvolle liede, voet- tikkende popmusiek en prettige produksies het die aand betower.

Ritme, ruk-en-rol, en rollende bewegings het die dansers van die aand behoorlik deur hul passies gesit. En met goeie uitslag – Keaton Geere, met sy gruwel-agtige kostuum en staccato-bewegings het weggestap as die algehele wenner!

Drama, toneel en voordrag het ons ook nie teleurgestel nie. Elke passievolle skrywer, toneelspeler of dramaturg kon wys waar hul talente weggesteek was met ‘n pragtige spreekkoor wat as die kategorie-wenner aangewys is.

Instrumentale spel het nuwe betekenis gekry, want buiten die tradisionele klawerbord, klavier en kitaar, het die gehoor geleer dat ‘n “beatboxer” se keel bonatuurlike geluide kan maak.

Die verskeidenheid van kategorieë maak dit moontlik om alle talente te akkommodeer en die produksie, wat ampertjies so groot soos Afrikaans is Groot is, het geen persoob verveeld gelaat nie.

Lees meer


Fotografie

Nog 'n jaar is verby. Die lede van die fotografieklub het heerlik foto's geneem deur die jaar, nie net van aktiwiteite by die skool nie, maar ook van temas waarvan hulle hou. Ons het reeds afgesluit vir die jaar en sien daarna uit om volgende jaar weer volstoom aan die 'afneem' te wees. Ons eerste vergadering is D.V. op 23 Januarie 2020. Almal wat belangstel is welkom!

Sien meer


Sterrestelsel Swerwers –PNHS Revue 2019

Gedagtes omsoom met sterre en ʼn melkweg vol hoop. ʼn Dromer en ‘n realis wat op die wolke loop. Sterrestelsel Swerwers is hul kreet, ‘n revue-groep wat PNHS nooit sal vergeet.

PNHS se revue het vanjaar besluit om hulle horisonne te verbreed. Buiten vir die Sterrestelsel Swerwers-tema , het hulle vir die eerste keer aan ‘n melkweg vol kompetisies deelgeneem. Hulle het op verskeie terreine uitgeblink waar hul hoogste prestasies ‘n A++ en medalje wenners is, wat hul by die Kunsvereniging Kunswedstryd ontvang het. Hulle het ook by die Kaleidoskope-kompetisie sowel as die Revue Championships na die finale rondte, waar slegs vyf skole gekies word, deurgedring. Hul stap weg met die titel as gunsteling nuweling wat elke Swerwer laat blink van trots.

Tydens hul optrede by die Wonderliggiefees, word die revue-groep toegejuig en aangespoor deur menigte PNHS-leerders sowel as die gemeenskap. Hierdie daad sluit aan by die tema wat dit duidelik maak dat daar vir elke leerder geleenthede by PNHS is en dat ons ten alle tye as ‘n span saamstaan. Die groep het ook op 25 Oktober 2019 hul televisie debuut gemaak, waar hul deelgeneem het aan die Dans In Jou Taal-kompetisie. Hierdie optrede sal lateraan op kanaal 146 uitgesaai word.

Hulle passie en toewyding word bewonder omrede die groep alreeds vroeg in Februarie begin met hul voorbereiding en enduit elke gehoor laat juig het met hul ritmiese bewegings, moderne kostuums en fenomenale rekwisiete.

Uiteindelik het die tyd gekom om terug te keer, die Sterrestelsel Swerwers, groet vir die laaste keer. Tussen die sterre het hul gedans en sing – watter reis gaan die toekoms vir die Swerwers bring?

Optredes:

Datum Kompetisie Prestasie
19 Julie 2019 Noorderkruinkunstefees A+
27 Julie 2019 Tshwane Jeug Kunstefees Spesiale uitnodiging
2 Augustus 2019 8Beats Algeheel vierde
13/29 Augustus 2019 Kaleidoskope Dring deur na finaal, algeheel vierde
15 Augustus 2019 PNNK Gaskunstenaar
16 Augustus 2019 Kultuurfees Spoggeleentheid
19 Augustus 2019 Kunsvereniging A++, Medaljewenners
30/31 Augustus 2019 Revue Championships Dring deur na finaal, Beste nuweling
5 September 2019 Wonderliggiefees Gaskunstenaar
25 Oktober 2019 Dans In Jou Taal Televisie-opname

Sien meer


PNHS KRAAI WEER KONING IN AFRIKAANS EKSPO’S !

Hoërskool Pretoria- Noord is vir die derde agtereenvolgende jaar die FAK - internasionale Afrikaans –Ekspo wenners. Dié Ekspo fokus op skoolleerders en studente se kreatiewe hantering van Afrikaans. Vanjaar se tema was # Groei Altesaam 82 skole, 10 universiteite en 4 privaatskole het vanjaar deelgeneem. Volgens die FAK was daar 1 479 deelnemers. Ons skool wen jaarliks op grond van die aantal inskrywings. Die wengeld beloop R10 000. Ons sê dankie aan elke Afrikaanse vakonderwyser wat die leerders gemotiveer het om in te skryf. Ook ‘n groot dankie aan elke leerder wat ingeskryf het.

Cathleen Roets Gr.8 - Wenner: Dagboekinskrywing

Kayla Roets Gr.9 - Wenner: Dagboekinskrywings

Niné Roets Gr.11 - Wenner: Skilderkuns

Juanita Lindeque Gr.10 - Wenner: Resensies

Jansie Lindeque Gr11 - Wenner: Resensies

BEELD EKSPO : KOERANTPLAKBOEKKOMPETISIE EN OPSTELKOMPETSIE

Dié ekspo het vanjaar uit twee kategoriee̎ bestaan, naamlik die kreatiewe skryfkompetisie asook die Beeldplakboekkompetisie. PNHS maak weer skoonskip met vele toekennings: Mari Grobbelaar gr.12 neem in albei afdelings deel en presteer ewe goed. Sy behaal ‘n agtste plek in die opstelkompetisie asook ‘n vierde plek as algehele wenner in die koerantplakboekkompetisie.

Maruchè Smith gr.9 skryf vir twee plakboekafdelings in en behaal ‘n 98% en 84% en behaal algeheel tweede plek in die plakboekkompetsie. Sy verwerf ook ‘n silwer medalje.

IIke van Schalkwyk skryf ook vir twee plakboekafdelings in, naamlik vir Koppe en behaal onderskeidelik 96% en 82%

Sy word ook aangewys as algeheel tweede en ontvang ‘n silwer medalje.

Die volgende leerders presteer soos volg:

Leandri Kleingeld gr.12 algeheel sesde

Marné Driescher gr.11 algeheel sewende

Renata de Beer gr.11 algeheel agtste

Alicia van Rooyen gr.12 algeheel negende

Eleni Trifyllis gr.8 algeheel tiende

Sien meer


Karnaval 2019

Sinoniem met Hoërskool Pretoria-Noord is die woord “Karnaval”. Vanjaar het ons weer geskiedenis gemaak deur vier van ons land se kunstenaars op een verhoog te hê: Dewald Wasserfal, Monique Steyn, Karlien van Jaarsveld en Bobby van Jaarsveld. Die immergewilde radiopersoonlikheid, Ruben Delmage, het as seremoniemeester opgetree.

Die fees is deur meer as 5000 feesgangers van heinde en verre bygewoon. Die jonger geslag speel na hartelus by die mallemeule terwyl die talle kosstalletjies die honger feesgangers bederf met heerlike eetgoed.

Maak gerus nou alreeds ‘n aantekening in u dagboek om u plek by die 2020 PNHS Karnaval te verseker.

Dit gaan een vir die boeke wees, want in 2020 gaan die NOORD GROOT!

Sien meer


PNHS Gholfdag 2019

Vanjaar het PNHS ‘n uiters suksesvolle gholfdag by die immergewilde Seasons Lifestyle Estate aangebied op 15 Oktober 2019.

Die dag was ‘n unieke bosveldervaring wat bygewoon is deur bykans 120 spelers en verskeie putjieborgskappe.

Die dag is op ‘n hoë noot afgesluit met ‘n keurige prysuitdelingsfunksie, veiling en ete.

Die 2020 gholfdag word beplan vir 13 Oktober en meer inligting sal binnekort bekend gemaak word, maak egter seker om nou reeds hierdie datum in u dagboek vas te maak om nie uit te mis op hierdie ongelooflike dag op die gholfbaan nie.

Sien meer


Jukskei

Die werklike ontstaan van jukskei kan volgens oorlewering, teruggevoer word na ongeveer 1734, toe Goewerneur Jan de la Fontaine aan die Buffelsjagtrivier die sport gestig het. Die doel van die fort was om onder andere timmerhout aan die Kasteel in Kaapstad te verskaf. Die Dragonders het hier met jukskeie en houtstompe na ‘n voorwerp in die grond gegooi –‘n speletjie om die ledige ure te vul. 2019 was beslis ‘n suksesvolle jaar vir PNHS se jukskeispan. Daar is vyf spanne ingeskryf en gesamentlik het hul 32 wedstryde deur die loop van die seisoen gespeel. Die jukskei span het keer op keer koning gekraai en het meer as 70% van alle wedstryde geëien.

Algehele uitslae:

  • 0/19B-seuns : Eerste in hul liga
  • 0/19B-meisies: Tweede in hul liga
  • 0/19A-seuns: Tweede in hul liga
  • 0/16 A-seuns: Vierde in hul liga
  • 0/19A-meisies: Vierde in hul liga

Uitsonderlike prestasies:

Hoërskool Pretoria-Noord spog ook met vier Gauteng Noord spelers:

  • Floris Brand Graad 8
  • Ulrich Gouws Graad 8
  • Yolandi Joubert Graad 10
  • Eric Reyneke Graad 12

Eric Reyneke speel ook vir die Junior Gauteng-Noord O/19A span en het verder Gauteng- Noord verteenwoordig in die O/30 span. Hierdie span het eerste geëindig by die Suid- Afrikaanse Kampioenskappe.

PNHS het teen tien skole kompeteer vir die Prestige Hoërskool-trofee en het uiteindelik ‘n vierde plek behaal. Tydens die kompetisie vir die Groot Totaal-trofee het PNHS sesde uit die vyftien deelnemende skole geëindig.

Met goeie gees, harde werk en deursettingsvermoë het Hoërskool Pretoria-Noord hul naam hoog gehou en deurlopend uitstekende prestasies behaal.

Sien meer


Merietefunksie 2019

SPORT:

  • Junior Sportdogter - Lenushke van Niekerk
  • Junior Sportseun - Lourens du Plessis
  • Senior sportdogter - Kayla Sauer
  • Senior sportseun - Adrian Durdle

KULTUUR:

  • Junior kultuurseun - Nantes Niemand
  • Junior kultuurdogter - Eleni Trifyllis
  • Senior kultuurseun - Marco Botha
  • Senior kultuurdogter - Lize Britz
  • Kultuurleerder 2019 - Eleni Trifyllis

VEELSYDIGHEID:

  • Veelsydigste gr 8 leerder - Owen Kühn
  • Veelsydigste gr 9 leerder - Lenushke van Niekerk
  • Veelsydigste gr 10 leerder - Anri Louw
  • Veelsydigste gr 11eerder - Lize Britz
  • Veelsydigste gr 12 leerder - Mari Grobbelaar
  • Veelsydigste vanaf gr 8 tot 12 leerder - Lize Britz

AKADEMIE:

  • Derde hoogste gemiddeld in gr 12 - Mari Grobbelaar
  • Tweede hoogste gemiddeld in gr 12 - Anneri Basson
  • Hoogste gemiddeld in gr 12 - Dawid Wannenburg

ANDER:

  • Dagbestuurstoekenning - Anneri Basson

Geesgroep:

Gooi water, gooi sand – die Noord is aan die brand.

Dit is geen geslote boek dat daar nie ‘n tekort aan gees by PNHS is nie. Tydens 2019 se interhoër het ongeveer 300 leerders hul harte uit geskree en gesing om die skool ten volle te ondersteun. Die groep het ook die aand voor die tyd ‘n geesvang- mars gehou waar hul voorberei het vir dit wat by Pilditch op hul wag. Om die gees aan te vuur het die Vuurmasjien seker gemaak dat hy gereeld sy verskyning by verskeie geleenthede maak. By ‘n skool van uitnemendheid wat talle geleenthede vir elke PNHS-leerder bied, kan mens nie anders as om “Ons het die G-E-E-S!” uit te basuin nie.

Sien meer


Rugby:

Die seuns het die voorreg gesmaak om gedurende die Maart-vakansie die USN-rugbytoer by Camp Discovery by te woon. Daar is hul talente verder ontgin en ons sien met groot verwagtinge uit na 2020 se seisoen!

Na die afloop van die PUK 16-reeks het ons aan die Blou-Bulle-liga deelgeneem. Al ons harde werk en voorbereiding was die moeite werd, want ons o/14-, o/15, 2de en ons eerste spanne het sukses gesmaak.

Ons 2de span het die PUK-16, sowel as die Blou Bulle Afdeling 2 Stadsbeker gewen. Ons o/14, o/15 en 1ste spanne het deurgedring na die semi-finale en sodoende het hulle gekwalifiseer vir die VirSeker- beker. Dit is ongetwyfeld nie ‘n geringe prestasie nie en ons is baie trots op die manne. Die o/14’s en eerste span het teen Hoërskool Pietersburg en die o/15’s teen Hoërskool Ben Viljoen kragte gemeet. Ongelukkig kon geeneen van die spanne verder in die uitspele vorder nie.

Ons skool spog egter met vier spelers wat vanjaar na die Blou Bulle Cravenweek-proewe genooi is. Baie geluk aan: Arie Dekker, Johan Lubbe, Karabetswe Mpete en Uvian van der Colff. Laasgenoemde is beloon met ‘n plek in die Blou Bulle Cravenweek se C-span.

Sien meer


Redenaars 2019:

Die spoeg het behoorlik gespat soos wat PNHS se redenaarsspan standpunt ingeneem het en talle beoordelaars en toeskouers oortuig het van hul argumente. Bykans sestig leerders was in 2019 betrokke by PNHS se redenaars en die leerders het aan vier verskillende kompetisies deelgeneem. PNHS bied aan elke leerder die geleentheid om te kies of hulle aan die voorbereide of onvoorbereide kategorie wil deelneem en sommige leerders neem selfs aan beide kategorieë deel. Sêgoed is skietgoed en PNHS weet beslis hoe om die tonge te laat klap.

Uitslae:

Optredes:

Datum:
12 Februarie 2019

Kompetisie:
Raakpraat
Redenaars: Intern

Prestasie:
58 deelnemers

Datum:
12 + 13 April 2019

Kompetisie:
ATKV-Redenaars
Menlopark

Prestasie:
20 deelnemers – 1 leerder dring deur na semi-finaal (Stefan Hennop)

Datum:
13 Mei 2019

Kompetisie:
Radikale Redenaars:
Ons bied dit aan

Prestasie:
25 deelnemers
6 Leerders ontvang ‘n A++, 12 A+

Datum:
13 + 14 September 2019

Kompetisie:
Kans!Vatter
Laerskool Queenswood

Prestasie:
Anneri Basson (Gr.12) kom tweede in beide Afrikaans onvoorbereide en voorbereide redenaars en ontvang in beide kategorieë ‘n A++.

Lize Britz (Gr.11) neem deel aan drie verskeie kategorieë, onder ander, Afrikaans voorbereide, Afrikaans onvoorbereid en Engels voorbereid. Sy ontvang vir al drie kategorieë ‘n A+. Sy kom ook derde in die onvoorbereide kategorie.

Anri Louw (Gr.10) ontvang ‘n A++ vir haar voorbereide toespraak en dring deur na die finale rondte.

Maruché Smith (Gr.9) ontvang ‘n A++ vir die Afrikaans voorbereid kategorie en dring dus deur na die finale rondte en ontvang ook ‘n A+ vir die Engels voorbereid kategorie.

Lerishia Coetzee ontvang ‘n A+ vir haar voorbereide toespraak en dring deur na die finale rondte.

Totaal: 19 leerders neem deel

Sien meer


Gholf

PUK 16 gholf

Ons het 4 spelers gehad wat hier deelgeneem het en hul elkeeen het hulsef baie goed van hul taak gekwyt. Dyllon McMaster, Ivan Bouwer, Matthew Kilfoil en Leigh Loots het PNHS op die toernooi verteenwoordig. Hierdie manne het dan ook die 2de plek beklee na die toernooi.

Ons het 3 gholfspanne gedurende 2019 gehad wat aan die D afdeling van die Tshwane liga deelgeneem het. Die is ‘n ontwikkelingsliga en ons seuns en dogter- ja slegs een, het die liga gebruik om hul gholfvaardighede op te skerp. Geen wenners word in die liga bepaal nie.

Gedurende die September skool vakansie het PNHS in samewerking met Dieter Snijders van Akasia gholfklub ‘n gholftoer onderneem wat bane soos Akasia, Mooinooi en Magaliespark ingesluit het. Die spelers is vergesel deur Mnr Driescher en Mnr Venter wat ook van die geleentheid gebruikgemaak het om saam met die leerders gholf te speel.

PNHS het 2 verteenwoordigers by die Junior Stadsraad van Pretoria, nl Tiphany Field en Duan Christie

Sien meer


Sagtebal

In 2019 het die sagtebal groot hoogtes berreik.

Seuns:

Die onder 16 en onder 19 seuns het in semi -finaal gespeel en bronz medaljes verdien in die Thswane kampioenskappe

Die onder 14 en 15 seuns het in finaal gespeel en silwer medaljes verdien in Thswane kampioenskappe.

13 seuns het die jaar onder 15 Gauteng noord span behaal

5 seuns het die onder 19 Gauteng noord span behaal en 1 seun die Gauteng onder 18 span .

Dogter:

Die onder 19 dogters span het in die Thswane kampioenskappe se semi finaal gespeel .

1 dogter het die onder 15 gauteng noord span gehaal.

1 dogter het die onder 19 gauteng noord span gehaal.

Sien meer


Mnr. & Mej. PNHS 2019

Vanjaar se mnr. en mej. PNHS was weereens ’n hoogtepunt op die kalender.

Die wenners:

Mej. PNHS: Marle Samons 1ste Prinses: Mari Grobbelaar 2de Prinses: Tiphany Field

Mnr. PNHS: Buju Locke 1ste Prins: Herco Heysteck 2de Prins: Hendrik Badenhorst

Mej. Fotogenies: Khanyisile Ncube Mnr. Fotogenies: Hendrik Badenhorst

Mej. Persoonlikheid: Amore Malan Mnr. Persoonlikheid: Marnus Basson

PNHS Gunsteling: Mari Grobbelaar

Sien meer


Algemene kennis vasvra

Is algemene kennis so algemeen?

Hoërskool Pretoria-Noord hou jaarliks die eerste drie kwartale ‘n interne algemene kennis vasvrae waaraan enigiemand kan deelneem. Die doel daarvan is om leerders te motiveer om hul algemene kennis op te skerp en natuurlik is dit pret! Soos in enige aktiwiteit is daar uitblinkers. Lize Britz (graad 11) was die eerste kwartaal die algehele wenner, Anneri Basson (graad 12) is die tweede kwartaal met die kroon beloon en Karla Vos (graad 11) het die derde kwartaal met die louere weggestap. Verbeel ek my dat ons dogters in 2019 stof in die oë van ons seuns geskop het met hul puik uitslae? Maar soos wat ek ons seuns ken, aanvaar hul die uitdaging vir 2020 en gaan beslis hulle stem dan dik maak! Onthou die wyse woorde van Francis Bacon, naamlik: “Kennis is mag!”


Atletiek

Haastige hond verbrand toe nie sy mond…

Spanning, sweet, afwagting, konsentrasie en wanneer die skoot klap, adrenalien. Elke atleet beleef hierdie gevoelens en gewaarwordinge in ‘n mindere of meerdere mate.

Gedurende hierdie jaar se Interhuisbyeenkoms is besluit om die kompetisie ook tussen die toeskouers aan te wakker. Die skool is in drie spanne ingedeel, naamlik die Atheners, die Romeine en die Spartane. Dit het gesorg vir ‘n goeie gees en mededinging en kon almal deel voel van die dag se opwinding.

Na ‘n dag van strawwe kompetisie, op en van die baan, het die Atheners met die louere weg gestap deur die ander spanne met ‘n allemintige 1022 punte te klop.

Die volgende atlete het in hul onderskeie items, langstaande rekords verbeter:

  • Kyle Engelbrecht - Verspring O/14 (5,56m) (5,55m; 1985) Hoogspring O/14 (1,70m) (1.58m; 1989)
  • Izelle Ehlers - O/17 1500m (5:41,00) (5:43,00; 2015)
  • Dylan McMaster - O/17 1500m (4:22.07) (4:40.7; 2017)
  • Rico Nel - O/17 1500m (4:27.5) (4:40.7; 2017)
  • Corne Coetzee - O/15 100m (12.10) Ewenaar (12:10; 2006)
  • Jarred Enslin - O/16 200m (23.75) (24.20; 1987) en O/16 100m (11.72) (2017)
  • Megan Hulme - O/14 Spiesgooi (33.25) (2016)

Megan Hulme het weggeloop met die toekenning as die beste dogtersveldatleet, die veelsydigste dogters- atleet en die junior Victrix Ludorum.

Kyle Engelbrecht het die toekenning as die beste seunsveldatleet, veelsydigste seunsatleet en die junior Victor Ludorum ontvang.

Die toekenning as die beste baanatleet gaan aan Jucille Basson en Jarred Enslin. Jarred Enslin het die senior Victor Ludorum ontvang en Amberlee Sutherland die senior Victrix Ludorum.

Ons sê baie geluk aan al die atlete met hul besonderse prestasies.

Ons atlete se talente was ook gedurende vanjaar se Interhoër behoorlik getoets.

Nie net het ons hierdie jaar van die sewende na die sesde algehele plek verbeter nie, maar is Kyle Engelbrecht ook aangewys as die atleet wat die beste prestasie in seunspronge (Verspring o/14 – 5,74m) verwerf het.

Ons worpe-seuns verwerf die trofee as die beste worpe-seunspan en ons verwerf ook ‘n sesde plek in die toekenning om die Geestrofee.

Welgedaan aan al ons atlete, geesgroep en ondersteuners!

Hou bene hou! Hou voluit, voorwaarts!
Carla Bronkhorst


Koor 2019

Vir die afgelope drie jaar weergalm daar ‘n stem teen die Magaliesberg en as jy dit nog nie gehoor het nie, mis jy uit!

Ons skoolkoor is dalk nog net drie jaar oud, maar Canta Libre laat nie gras onder hulle voete groei nie. Die koor tree by ‘n verskeidenheid van kunswedstryde, skoolfunksies en kerke op en het hierdie jaar selfs op die televisieprogram, Sing in Harmonie, hulle verskyning gemaak.

Die naam, Canta Libre, beteken om vrylik te kan sing. Dit is presies wat die koor vir sy lede bied – ‘n geleentheid om sonder pretensie met hulle talente te woeker. Met juffrou Delport as organiseerder en die talentvolle Francois Olivier as afrigter en dirigent, is dit duidelik dat dié koorkultuur en sy baie jong talent dit nog baie ver gaan bring.

Daar was ook hierdie jaar vir die eerste keer ‘n koorkamp vir Canta Libre gereël. Tussen die gespeel en gekuier, is daar lang ure geoefen. Daar het die koor hulle stem op ‘n nuwe vlak gevind. Dit was beslis ‘n naweek om te onthou.

Lize Britz


English Evening 2019

Die beste Engels redenaar van 2019 was Lize Britz, ‘n graad 11-leerder en hoofdogter van die skool vir 2020, wat met die PNHS wisseltrofee vir Engels redenaars weggestap het. Sy het ook erekleure ontvang vir vier jaar se 100 persent deelname aan Engels redenaars, sowel as daarvoor dat sy twee jaar in ‘n ry aangewys is as beste senior redenaar.

Stefan Hennop, ‘n graad 12-leerder se getrouheid is beloon met die toekenning van erekleure vir vier jaar se 100 persent deelname.

By die juniors is erekleure aan Maruché Smith toegeken daarvoor dat sy twee jaar in ‘n ry aangewys is as beste junior Engels redenaar.

Buiten hierdie leerders wat vir besonderse prestasies vereer is, verdien elke deelnemer aan die drie English Evening-geleenthede ‘n klop op die skouer. Hulle het verstom met diepsinnige toesprake en passievolle voordrag van eie en ander gedigte.


Debat

Debat is dié kultuuraktiwiteit van alle kultuuraktiwiteite! As jy nie op jou mond geval is nie, is dit vir jou.

Hierdie jaar is vier spanne vir die ATKV-Debatskompetisie ingeskryf en dit was ‘n groot sukses.

Die spanne wat deelgeneem het, het uit die volgende lede bestaan, naamlik:

Juniors:

Kayla Roets, Jorja van Niekerk en Nerise Venter Maruché Smith, Chrisna Snyman en Tasha van der Merwe

Seniors:

Marco Botha en Mari Grobbelaar (voorstaanders) Lize Britz en Sheliezé van Deventer (teenstaanders)

Marco Botha


Kunswedstryd 2019

Die skrywer Bryant H. McGill het gesê dat ‘n mens nie net die kunstenaar is nie, maar ook die kuns. As ‘n mens net ‘n smakie gekry het van hierdie jaar se kunswedstryd, kan jy nie anders as om saam te stem nie. Dit is iets besonders om te aanskou wanneer ‘n kind die geleentheid gegun is om hom- of haarself uit te druk.

Hier is wat die volgende leerders met daardie geleentheid gedoen het:

Gr. 8:

Jemma Els: Deelname

Chrisma Jacobs: Deelname

Cathleen Roets : 9 goue sertifikate

Shany Ehlers: 11 goue sertifikate

Anouk Janse van Rensburg: 22 goue sertifikate, 1x kategoriewenner

Eleni Trifyllis: 33 goue sertifikate, 10x kategoriewenner

Gr. 9:

Sybil Lotriet: Deelname

Anusca Paulsen: Deelname

Danica Grobler: 1 goue sertifikaat

Hesmari Scholtz: 1 goue sertifikaat

Jorja van Niekerk: 1 goue sertifikaat

Jandré Malan: 2 goue sertifikate

Darren van Wyk: 3 goue sertifikate

Carindie Venter: 11 goue sertifikate

Kayla Roets: 15 goue sertifikate, 1x kategoriewenner

Maruché Smith: 48 goue sertifikate, 30x kategoriewenner

Gr. 10:

Sumarie Koen: 1 goue sertifikaat

Anri Louw: 28 goue sertifikate, 10x kategoriewenner

Gr. 11:

Irene Venter: Deelname

Aden Simpson: 1 goue sertifikaat

Kayla Sharpe: 1 goue sertifikaat

Louné Scholtz: 3 goue sertifikate

Niné Roets: 3 goue sertifikate

Charistel de Bruyn: 8 goue sertifikate

Shanty Ehlers: 11 goue sertifikate

Lize Britz: 21 goue sertifikate, 9x kategoriewenner

Gr. 12:

Christan Kemp: 2 goue sertifikate

Emile Coetzee: 14 goue sertifikate, 3x kategoriewenner

Lize Britz


Toneel

Skaapboud of narsissis, PNHS sal nooit dié standaarde mis!

“The world is a stage, where every man must play a part” Shakespeare Vanjaar het die PNHS-toneelgroep se passievolle vertolking weer eens die gehoor op die punte van hul stoele gehad. Onder leiding van mejuffroue Pieterse en Du Plessis asook meneer Jacobs, het die akteurs hard gerepeteer en is twee uitstekende toneelstukke op die planke gebring.

In die eerste toneel, moes‘n hardkoppige tienerdogter die waarde van familie leer. Nadat sy nie na rede wou luister nie, moes daar ‘n plan beraam word. Ouma en kleindogter ruil liggame en so moet die kleindogter blitsafsprake namens ouma deursit. Ouma doen weer alles in haar vermoë om die kleindogter se selfsugtige kêrel, die aftog te laat blaas. Die briljante vertolking het die gehoor laat skater. Eind goed alles goed. Kleindogter en ouma ruil weer terug en die les is geleer.

In toneel twee slaan vroutjielief haar ontroue man met ‘n gevriesde skaapboud oor die kop. Morsdood. Die polisie het kopgekrap oor wie die moordenaar kon wees. Niemand kan die sagmoedige en sorgsame vroutjie verdink nie. Sy was dan so lief vir haar man. Hy het egter net oë vir sy aantreklike mede-offisier gehad. Die moordwapen sal die sleutel wees. So al smullende aan die heerlike (voorheen gevriesde) skaapboud wat die oorledene se sorgsame vroutjielief vir die polisie voorberei het, ruil hulle notas uit, terwyl hulle onwetend bewysstukke vernietig.

Die aand was ‘n reuse sukses en al die harde werk het vrugte afgewerp.

Ons sien uit na volgende jaar!

Carla Bronkhorst


PN-Raad 2019

Vanjaar se PN-Raad het nie net orde gehandhaaf nie, maar tesame met ‘n besonderse graad 8-groep, het hulle die beste Graad 8-konsert in jare op die planke gebring. Die PN-Raad het hulp verleen aan verskeie liefdadigheidsorganisasies en - projekte, wat onder andere Rhino-Connect en die plastiekprojek, insluit.

Ten spyte van verskeie uitdagings langs die pad, het hierdie leiergroep van veertig lede daarin geslaag om voorbeelde op verskeie terreine te wees, van die sportveld tot op akademiese- en kultuurgebiede.

Die PN-Raad strewe die waardes van die skool na, en ag geloof hóóg, en deurdat hulle die Here die kern van dié leiersgroep gemaak het, het hulle sukses behaal in alles wat hulle aangepak het.

Na die uitdagende jaar het die PN-Raad van 2018/2019 die leisels oorgegee aan ‘n nuwe groep leiers, wat sal voortbou op die voorbeeld van dié groep.

Mari Grobbelaar


Landloop

Die langasems verdien goud

Daar is min mense wat oor die toewyding en vasbyt van ‘n langafstandatleet beskik.

Die wat weet, sê dat om te kan presteer, moet jy ten minste ses dae per week oefen. Elke week van die jaar. Dit beteken driehonderd en twaalf dae uit die driehonderd vyf-en-sestig dae van die jaar.

Daar is twee landloopklubs by die skool betrokke en die onderskeie afrigters sorg dat ons atlete topfiks is.

Dit is dan ook waarom PNHS se langafstandatlete die jaar so goed kon presteer.

Die atlete neem aan verskeie byeenkomste deel en presteer as volg:

Die senior dogters eindig eerste in al ses hul B-bond ligawedlope, terwyl die junior seuns in elk van hul ses B-bond ligawedlope in die top drie plekke eindig.

Die atlete het hul medaljes tydens n glans geleentheid by Hoërskool Eldoraigne, in ontvangs geneem.

Hiermee wen PNHS dan die liga in die B-bond en skuif die landlopers op na die A-bond vir 2020.

Veertien van ons landlopers het gekwalifiseer om as lede van die Gauteng-Noord span by die interprovinsiale byeenkoms te Middelburg deel te neem.

Ten spyte van strawwe kompetisie, word Dylan McMaster, Willie van Rooyen, Abigail Grobler en Natasha Sikisi gekies om die Gauteng-Noord span by die Suid-Afrikaanse kampioenskappe te verteenwoordig.

Carla Bronkhorst


Skaak

Sumarie Koen

Die geskiedenis van skaak is bykans vyftien eeue oud. Die spel het in die sesde eeu na Christus in Noord-Indië ontstaan en het na Persië versprei. Toe die Arabiere Persië verower, is skaak deur die Indiese-wêreld opgeneem en daarna deur die Moorse verowering van Spanje na Suid-Europa versprei, maar in Rusland het die spel direk van die Khanates na die suide oorgespoel!

Hoërskool Pretoria-Noord se eie skaakspan laat ook 'n merk in die geskiedenis. Juffrou Prins het twee spanne vir die ‘’Arnold classics’’-toernooi ingeskryf waar een van die spanne 'n brons medalje verwerf het. Ons is trots op beide spanne.

Vir die eerste keer in die geskiedenis van Hoërskool Pretoria-Noord het twee spanne deurgedring na die distrik top skole. Waar ons seunspan sewende geëindig het en die dogters sestiende . Ons is baie trots op julle en doen so voort!


Netbal

PNHS se netbalmeisies het behoorlik gewys dat hulle het wat dit vat reg deur die seisoen. Pretoria-Noord het groot naam gemaak in die PUK 16-reeks waarin ons O/15 A-span tweede geëindig het.

Vanjaar het PNHS se netbaspanne in hoër ligas gespeel as vorige jare en het selfs van die grootste skole, ore aangesit. Al ons skool se A-netbalspanne het vanjaar deurgedring na die Tshwane-uitspele waar ons O/14 - en ons O/19 A-spanne deurgedring het na die kwartfinale.

Anders as normaalweg is dit nie waar Pretoria-Noord se netbalseisoen geëindig het nie. Vir die eerste keer in ons skool se geskiedenis het ons netbalmeisies ook deel geneem aan die Fast5-netbalreeks waarin verskeie spanne besonders goed presteer het.Dis veral ons O/15 A-span wat die oog gevang het en deurgedring het na die GSS-uitspele, en met dié reeks PNHS-netbal op ‘n hoogtepunt afgesluit het.

Mari Grobbelaar


Olimpiades – Wetenskappe 2019

In 2019 het ‘n rekordgetal leerders aan die Natuurwetenskappe, Lewenswetenskappe en Fisiese Wetenskappe Olimpiade deelgeneem. Hierdie leerders moes letterlik klippe kou om hierdie nasionale olimpiade aft e lê. Ons kan egter met trots sê dat hulle besonders goed presteer het vanjaar.


Brugbou-, Waterkompetisie en Wetenskap-Ekspo

Hierdie jaar het PNHS omtrent uitgeblink op die veld van wetenskap en ingenieurswese!

Brugbou

Die Suid-Afrikaanse Instituut van Siviele Ingenieurs (SASI) se brugboukompetisie se Noord-Gauteng ronde is by Hoërskool Pretoria-Noord gehou. In hierdie kompetisie ontvang elke span 25 dun houtdelfies en slegs ‘n sekere hoeveelheid tou en gom om ‘n sterk en mooi brug te bou. Dan is daar boonop ‘n tydsbeperking ook om die brûe te voltooi. Ons toekomstige ingenieurs het hul besonders goed van hul taak gekwyt.

Waterkompetisie

SASI bied jaarliks ‘n waterkompetisie aan waar drie van PNHS se spanne deelgeneem het nadat hulle tydens ‘n interne ronde deurgedring het. Tydens hierdie kompetisie ontvang spanne ‘n groot oppervlak met drie watertenks wat daarop geplaas word en ‘n reservoir. Die spanne kry dan drie liter water wat hulle eweredig moet versprei tussen die tenks wat nie ewe ver van die reservoir af is nie, en die pypies wat voorsien word, is ook nie ewe dik nie. Die kompetisie kry mens omtrent aan die dink!

PNHS het baie goed gevaar in die Noord-Gauteng kompetisie en ‘n tweede plek is behaal deur Marco Botha, Reinhart du Preez en Richardt Oliver.

Wetenskap-Ekspo

In 2019 neem PNHS aan die jaarlikse Noord-Gauteng Wetenskap Ekspo deel. Ons het drie projekte ingestuur waarvan twee projekte gekies is om op nasionale vlak deel te neem!

Bianca Swanepoel het ‘n brons sertifikaat ontvang. Richardt Oliver en Marco Botha stap elkeen weg met ‘n goue sertifikaat, is kategorie wenners en dring deur na die nasionale-ekspo. Jandré Malan verwerf ‘n goue sertifikaat, is ‘n kategorie wenner en dring deur na die nasionale-ekspo.


Kunswedstryde 2019:

Erekleure:

  1. Carindie Venter 9A: 11 goue sertifikate

  2. Maruché Smith 9A: 48 goue Setifikate en 30 keer kategorie wenner. SY WEN OOK DIE

KUNSWEDSTRYDE TROFEË VIR DIE JAAR.

  1. Emile Coetzee 12 C: 14 goue sertifikate, 3 keer kategorie wenner

  2. Anri louw 10E: 28 goue sertifikate, 10 keer kategorie wenner en I keer algehele wenner

  3. Kayla Roets 9A: 15 goue sertifikate, 1 keer kategorie wenner

  4. Eleni Trifyllis 8C: 33 goue sertifikate, 10 keer kategorie wenner

  5. Lize Britz 11B: 21 goue sertifikate, 9 keer Kategorie wenner

  6. Anouk Janse van Rensburg 8E: 22 goue sertifikate, 1 keer kategorie wenner

  7. Cathleen Roets 8D: 9 goue sertifikate,

  8. Shanty Ehlers 11F: 11 goue sertifikate

  9. Shany Ehlers 8B: 11 goue sertifikate

  10. Charistel Du Bruyn 1E: 8 goue sertifikate

Erekaart:

  1. Danica Grobler 9A: 1 goue sertifikate

  2. Hesmari Scholtz 9C: 1 goue sertifikate

  3. Louné Scholtz 11E: 3 goue sertifikate

  4. Christan Kemp: 12B: 2 goue sertifikate

  5. Darren van Wyk 9F: 3 goue sertifikate

  6. Jorja van Niekerk 9B: 1 goue sertifikate

  7. Jandré Malan 9B: 2 goue sertifikate

  8. Sumarie Koen 10C: 1 goue sertifikate

  9. Kayla Sharpe 11B: 1 goue sertifikate

  10. Jemma Els 8C: deelname sertifikate

  11. Aden Simpson 9D: deelnamesertifikate

  12. Irene Venter 11A: deelname sertifikate

  13. Anuscka Paulsen 9C: deelname sertifikate

  14. Chrisma Jacobs 8C: deelname sertifikate

  15. Sybil Lotriet 9D: deelname sertifikate

  16. Nine Roets 11A: 3 goue sertifikate

KOOR 2019:

Vanjaar was daar was daar 70 toegewyde koorlede wat deel was van die familie. Ons het die jaar afgeskop met ‘n koorkamp wat die leerders baie geniet het. Ons het aan 9 optredes deelgeneem:

  1. Skole top 10: 10/2/2019

  2. Sing in Harmonie by Gold Reef City en het slegs aan die uitdun rondte deelgeneem: 5/5/2019

  3. Noordekruin Kunstefees verwerf ons ‘n A+: 19/7/2019

  4. Staatsteater toekenning vir die nuwe koor kategorie van Hoërskole gewen: 4/8/2019

  5. Afrikaanse Kunsvereniging Pretoria verwerf ‘n A: 12/8/2019

  6. PNHS Toneelaand: 14/8/2019

  7. PNHS Kultuurfees: 16/8/2019

  8. Wonderliggiefees: 5/9/2019

  9. PN raad inhuldiging: 27/8/2019

DEBAT 2019:

Die Interne debatkompetisie het op 28/02/2019 plaasgevind en die spanne wat daar die hoogste punte behaal het, het deurgedring na die ATKV debatkompetisie wat op 1-2/03/2019 plaasgevind het.

Interne debat kompetisie:

  1. Seniors: Mari Grobbelaar. Adriaan van Deventer, Lize Britz, Shelieze van Deventer, Marco Botha, Anri Louw, Carla Bronkhorst, Stefan Hennop, Aruscka Gomes en Deon Gerber

  2. Juniors: Maruché Smith, Chrisna Snyman, Tasha van der Merwe, Kayla Roets, Nerise Venter, Jorja vna Niekerk

Spanne wat deurgedring het na die ATKV debatkompetisie was:

  1. Marco Botha en Mari Grobbelaar

  2. Lize Brit zen Shelieze van Deventer

  3. Al ses juniors het deur gedring


Tennis 2019
  • Jnr. Dogters 0/15: Eindig 5de in liga
  • Jnr. Seuns 0/15: Eindig 3de in liga
  • Snr. Dogters: 1ste span: Eindig 2de in liga
  • Snr. Dogters: 2de span: Eindig 2de in liga
  • Snr. Seuns: 1ste span: Eindig 1ste met 4 wenne uit 5 wedstryde
  • Snr. Seuns: 2de span: Eindig 3de in liga

Leieropleiding

PNHS streef daarna om holistiese leierskap by leerders te ontwikkel, gevolglik bied ons elke jaar ‘n leiersopleidingsdag aan onder leiding van Mnr. W. Engelbrecht van BE THAT GUY. Gedurende die opleidingsessie word spesifieke vaardighede aangespreek deur speel en sprekers.

Verskillende leiers op verskillende velde word genooi , van die klasleier tot die kaptein van die eerste rugby span, ons nooi dan ook die omliggende laerskole se leierskorps.

In 2020 sal die opleidingsdag op Saterdag, 16 Mei wees. Hou jou pos dop jou uitnodiging is oppad.


Wintertee 2019

Watter wonderlike damesfunksie was dit nie weer eens dié jaar nie? Vanjaar is ons vermaak deur Frank Opperman in sy eenmansvertoning “Donkie.”

Die produksie is ‘n móét sien vertoning. Ons het geskaterlag en daarna saam met ons vriendinne heerlik om die teetafel sit en kuier.

Jammer manne, hierdie is net ‘n damesfunkie wat een keer ‘n jaar plaasvind.


Terug