Spesiale brief aan Ouers/2020

Spesiale brief aan Ouers/2020

Administratief
April 23, 2020


Geagte PNHS ouers

Spesiale nuusbrief van die beheerliggaam na ouers – Betaling van skoolgeld

Daar bestaan tans baie onsekerheid binne die onderwyssektor. Ons weet nie wanneer die skole gaan heropen nie, ons weet nie hoe verlore tyd ingehaal gaan word nie, ons weet nie wat die datums van die volgende kwartale gaan wees nie, ens. Ons weet wel dat die res van 2020 ʼn ontwrigte skooljaar gaan wees, ouers en besighede geldelike verliese gaan lei en bes moontlik gaan sukkel om skool- gelde te kan betaal. Ons weet ook dat baie sport-, kultuur-, sosiale- en fondsinsamelingsaktiwiteite uit- of afgestel is.

Ten einde te verseker dat Hoërskool Pretoria-Noord (PNHS) se kernbesigheid, wat die voorsiening van gehalte-onderrig aan elke leerder is, kan voortgaan moet die beheerliggaam verseker dat die volgende rekeninge betaal word:

  1. Ons skool se personeel wat die hartklop van die skool is. ʼn Goeie opvoeder is die grootste bate in onderwys en ons het ʼn plig in terme van die arbeidswetgewing om alles moontlik te doen om poste te behou en die personeel te betaal.
  2. Die aankoop van handboeke, opvoedkundige materiaal of uitrusting vir die skool;
  3. Betaling vir dienste aan die skool.

’n Reuse 85% van ons inkomste bestaan uit skoolgeld wat bogenoemde uitgawes moet dek en doen ons derhalwe ʼn ernstige beroep op ouers om steeds skoolgeld te betaal. Die betaling van skoolgeld is ʼn statutêre plig wat die leerder se ouers kragtens die bepalings van artikel 40(1) van die Skolewet moet nakom.

Die beheerliggaam van PNHS het belangrike besluite geneem oor hoe die bates die beste aangewend kan word om seker te maak dat die skool se kernbesigheid met sukses voortgesit kan word. Ons gee graag die volgende opsies vir ouers vir die betaling van skoolgeld:

  1. Aangesien skoolgeld statutêr is, is elke biologiese ouer geregtig om aansoek te doen vir die vrystelling van skoolgeld in terme van die Nasionale Regulasies in die verband. Sommige ouers het reeds aansoek gedoen welke uitslag reeds aan ouers gekommunikeer is. Indien u nog nie u terugvoer ontvang het nie, sal u spoedig na die “Lockdown” van die skool hoor.

  2. Indien ʼn ouer se finansiële posisie tydens die tyd van inperking verander of verswak het, (ook ouers wat reeds aansoek gedoen het vir vrystelling) kan ‘n aansoek vir vrystelling per e-pos versoek word by [email protected] Met ontvangs van die voltooide aansoekvorm, per e-pos, sal die ouer tydelike uitstel op skoolgeld ontvang vir die tydperk van inperking en totdat die beheerliggaam ’n besluit ooreenkomstig die Regulasies kon neem. Ouers bly verantwoordelik vir die maandelikse betaling van skoolgeld totdat die voltooide aansoekvorm ontvang is. Die aansoeke sal dan 7 dae na die einde van die inperkingstydperk sluit, waarna ouers dan die nodige dokumente moet ingee soos deur die SBL versoek. Beide biologiese ouers bly verantwoordelik vir die betaling van skoolgeld en vrystelling sal bereken word op die totale bruto inkomste vir 2020 van beide biologiese ouers. Die normale voorwaardes ten opsigte van die aansoek om vrystelling van skoolgeld sal steeds geld.

  3. Alle volledige aansoeke vir vrystelling wat 7 dae na die einde van die tydperk van inperking ontvang is, sal so gou moontlik verwerk word en terugvoer aan ouers gegee word. Sou vrystelling toegestaan word of al dan nie, sal die balans van die skoolgeld, na vrystelling, in die oorblywende maande tot Desember betaalbaar wees. Ouers wat dus steeds kan bekostig om skoolgeld te betaal of ʼn gedeelte te betaal word aangeraai om steeds betalings te maak, sodat die las vir die oorblywende maande nie te groot word nie.

  4. Indien ouers weet dat hul wel die skoolgeld vir 2020 sal kan vereffen, maar ʼn maand of meer (maksimum van 3 maande) uitstel versoek, kan ʼn e-pos aan die volgende adres [email protected] gestuur word met die onderneming op skrif, sodat dit op die sisteem aangeteken kan word. Ouers moet op skrif aandui die datum en bedrag van skoolgeld wat betaal kan word sodat die uitstaande balans teen 1 Desember vereffen sal wees. Rekeningstate sal nogsteeds maandeliks per e-pos gestuur word. Indien ʼnouer nie ʼn staat per e-pos ontvang nie, versoek asb. ʼn staat per e-pos by [email protected]

  5. Rekeninge wat teen 31 Maart agterstallig was (dus voor die staat van inperking) en geen skriftelike onderneming ontvang is nie, of die huidige skriftelike onderneming nie nagekom is nie, mag op 1 Mei oorhandig word vir invordering. Ons wil ouers egter nog ’n kans bied om reëlings met die skool te tref deur voor 30 April met Mev Liza Strydom te skakel.

Vir enige navrae kontak haar by [email protected]

As Hoërskool Pretoria-Noord skoolgemeenskap moet ons steeds alles moontlik doen om seker te maak dat onderrig kan voortgaan – opvoeders, ouers en leerders. Ons is ’n span wat moet seker maak dat ons steed’s opgewonde bly oor onderwys – ons is dit aan ons kinders verskuldig. Die beheerliggaam wens elke ouer en leerder baie sterkte toe in hierdie tyd.

Beheerliggaam groete

Aflaai aanhangsel

Terug