Omsendbrief 23/2020

Omsendbrief 23/2020

Administratief
July 16, 2020


Geagte ouers
Heropening van H/S Pretoria-Noord

Ons kan terug rapporteer dat ons graad 12 leerders se week 6 en graad 11 se week 3 en graad 10 se week 2 en graad 9 se week 1 terug by die skool sonder voorval verloop het en daar word fluks gewerk. Dankie vir ons leerders seuitstekende gedrag. Graad 9 se JAT-toetse vir vakkeuses is ook hierdie week afgehandel, leerders wat weens isolasie of siekte die toetsings gemis het sal in Augustus weer ‘n geleentheid gebied word om te skryf. Ons skoolbywoning vir hierdie week was 88% vir graad 12, 90% vir graad 11, 86% vir graad 10 en 90% vir graad 9.

Met goedkeuring van die Hoof van die Gauteng Onderwys Departement en ons Beheerliggaam sal die skool eerskomende Maandag, 20 Julie 2020 ook open vir ons graad 8 leerders. Ons bevestig net weer vir ons graad 8 leerders dat om te voldoen aan die vereistes van ‘n 1,5 m veiligheidsafstand, slegs 50% van kapasiteit en ongeveer 20 leerders per klas, het ons ter wille van veiligheid besluit om ‘n rotasie stelsel te volg. Groep B sal begin op Maandag, 20 Julie 2020 met dag 3 op hul rooster terwyl groep A ‘n tuis studiedag sal hê, op Dinsdag, 21 Julie 2020 sal groep A begin met dag 4 op hul rooster en Groep B sal ‘n tuis studiedag hê. So sal groep A en B om die beurt roteer om by die skool te wees.

Die indeling vir graad 8 is as volg:

Groep A Groep B
8A: Vanne A tot K 8A: Vanne L tot V
8B: Vanne A tot O’Call 8B: Vanne Oosth tot W
8C: Vanne A tot Meintjies 8C: Vanne Mokasie tot V
8D: Vanne A tot Kruger 8D: Vanne Labusch tot W
8E: Vanne A tot L 8E: Vanne M tot W
8F: Vanne A tot Olivier 8F: Vanne Oosth tot W
COVID 19 Protokol:

Vir u gerief gaan ons elke keer wanneer ‘n graad terugkeer ons COVID 19 protokol vir u herhaal sodat ouers en leerders hulself kan vergewis van ons nuwe werkswyse by die skool en hulself voortydig kan orienteer ten opsigte hiervan.

Sertifikate / permitte vir leerders wat skool bywoon

Geagte ouers neem ook kennis dat alle leerders ‘n sertifikaat / permit vir toestemming om skool by te woon sal ontvang met hul eerste dag terug by die skool. Maak asseblief seker dat u kind hierdie sertifikaat / permit ten alle tye by hulle het wanneer hulle skool toe en terug huis toe beweeg.

Disinfekteringstonnels

Die veiligheidspesifikasies rondom die produk wat in ons tonnels gebruik word is deurgegee aan ons Beheerliggaam en ons is tevrede dat hierdie produk veilig is vir ons leerders. Dit is ‘n organiese produk wat nie chloor of alkohol bevat nie en wat ontwikkel is vir die myne.

Aangesien hierdie veiligheidsmaatreel een is wat bo en behalwe die vereiste maatreels geneem word sal geen leerder van H/S Pretoria-Noord gedwing word om daarvan gebruik te maak nie en lê die keuse by u en u kind of u daarvan gebruik wil maak aldan nie.

Dit sal ook beskikbaar wees na skool vir leerders wat daar deur wil loop voor hul na hul huise terugkeer.

Die skooldag

Ons bevestig net weer dat die skooldag word verleng ten einde tyd op te maak vir verlore tyd asook die nuwe rotasiestelsel en sal om 07H20 begin en eindig om 15H00. Die skooldag sal Vrydae om 14h00 eindig.

Periodes sal om en by 50 minute wees met twee pouses van 25 minute elk.

Geen saalopeninge sal meer gehou word nie en leerders sal nie meer aantree in die oggende nie, maar direk na hulle voogklasse beweeg as die klok om 07H20 lui vir die begin van die skooldag. Opening en afkondigings sal deur die interkom in voogklasse hanteer word.

Geen toetsperiodes sal gehou word nie en enkele toetse wat hierdie kwartaal afgehandel moet word sal op Saterdae geskeduleer word. Hou asb. die assessering op die nuwe kwartaalprogram dop.

Ons behou ons LOBO program en leerders sal hier spesifiek geestelik ondersteun word ten midde van hierdie nuwe wêreldbedreiging wat ook ‘n geweldige sielkundige impak op ons leerders kan hê. Ons jeugwerkers asook skoolsielkundiges staan gereed om u kind by te staan.

Veiligheidsmaatreëls binne die skool

Soos reeds genoem sal geen persoon sonder die voorgeskrewe gesigmasker of skerm in die skool toegelaat word nie, dit sal impliseer dat die leerder wel sy eie masker gaan benodig om die skool te kan binnekom. Leerders wat nie ‘n gesigmasker het nie kan kontak maak met Mev. S de Wit by [email protected] om te reël vir ‘n geskenkte gesigmasker. Leerders mag ook sy eie masker of ‘skerm’ dra, solank die masker net voldoen aan die voorskrifte van die Wêreldgesondheids-organisasie en regulasies.

Leerders sal slegs toegang tot die skool hê deur die Berglaanhek. Leerders sal vanaf 06H30 toegang hê tot die skoolterrein. Met hul aankoms sal elke leerder en personeellid se hande gesaniteer word, temperatuur geneem word en ‘n vraelys oor simptome voltooi word. Hierbenewens sal elke personeellid en leerder ook deur ‘n saniteringstonnel beweeg wat ook klere, skoene en tasse sal saniteer.

Personeel met ‘n temperatuur van 38ᵒC en hoër sal onmiddellik huistoe gestuur word om hulself te laat toets, leerders met ‘n temperatuur van 38ᵒC en hoër sal in ‘n isolasielokaal (PN Raadskamer) geplaas word, hul ouers sal gekontak word om hulle af te haal en te laat toets. Sodanige personeel en leerders sal slegs weer toegelaat word met bewys van ‘n mediese sertifikaat. Besoekers met ‘n temperatuur van 38ᵒC en hoër of enige moontlike simptome sal nie toegelaat word tot die skool nie.

Positiewe toetsing vir COVID-19 moet asseblief onmiddellik met bewys van ‘n mediese sertifikaat by die hoof gerapporteer word.

‘n Sosiale afstand van 1,5 M sal ten alle tye in die skool gehandhaaf word. Geen persoonlike kontak op welke wyse ook al tussen persone nie.

Leerders se hande sal gesaniteer word elke keer wanneer hulle ‘n klaskamer / kleedkamer binnegaan. Leerders mag ook hul eie saniteerder saambring. Tafels, oppervlaktes en toerusting sal ook gedisinfekteer word tydens elke klaswisselling.

Daar sal slegs eenrigting verkeer wees tydens klaswisselling en leerders sal ten alle tye ‘n volgafstand van 1,5 M handhaaf, terwyl onderwysers buite hulle klasse sal toesig hou.

Klasse se vensters en deure moet altyd oop wees vir goeie ventilasie, maak seker dat u kind warm aantrek op koue dae.

Leerders mag geen toerusting, skryfbehoeftes, handboeke of skrifte van ander leen nie of eetgoed deel nie.

Leerders moet asseblief hulle eie waterbottels bring en nie direk uit krane water drink nie.

Identifisering en bekamping van COVID-19

U kan ons ook tuis help om ons skool veilig te hou, deur u kind se gesondheid fyn te monitor en u kind ‘n higiëniese leefstyl aan te leer.

Van die geïdentifiseerde simptome van die siekte is onder andere: lyfseer, droë hoes, kortasem, verlies van smaak, diarree, naarheid en braking en buitengewone moegheid. Indien u kind hierdie simptome toon met ‘n gepaardgaande hoë koors moet hom / haar asseblief nie skool toe stuur nie en win mediese advies in.

Die verspreiding van die siekte kan verhoed word deur persoonlike higiëne op te skerp:

  • Gereeld hande te was met seep en water vir ten minste 20 sekondes.
  • Daagliks te stort / bad, naels en tande skoon te hou en skoon klere aan te trek.
  • Moenie aan gesigte raak nie en vermy kontak met oë, mond en neus.
  • Gebruik die hoek van ‘n elmboog of sneesdoekie as jy hoes / nies.
Skoolbywoning

Alhoewel ons versoek dat leerders wat simptome toon eerder by die huis moet bly, is dit noodsaaklik dat gesonde leerders wel skool toe kom. U sou besef het dat aanlyn-onderrig onder geen omstandighede ‘n plaasvervanger vir ‘n onderwyser in ‘n klas kan wees nie. Leerders word wetlik verplig om by die skool te wees en vir grade wat infaseer skop die regulasies rondom skoolbywoning weer in. Leerders sonder mediese afwesigheid van langer as 10 dae aaneenlopend afwesig sal van die register verwyder word.

Die uitsondering hier is leerders wat hoë risiko siektes en onderliggende siektetoestande (“comorbidities”), onder andere hartsiektes, long siektes, kanker en / of ‘n gebrekkige immuniteit-sisteem het. Elke leerder sal ‘n gesondheidsvraelys ontvang met hul eerste dag van skoolbywoning wat voltooi moet word en terug besorg moet word aan die voogonderwyser tydens die volgende voogperiode. Indien ‘n leerder positief antwoord op een van die onderliggende gesondheidstoestande kan ‘n aansoek gerig word met ‘n gepaardgaande mediese sertifikaat as bewys vir ondersteunende tuisonderrig. Sodanige leerders sal ons verder aanlyn-probeer help, met ouers wat self werk kom afhaal en inhandig by die skool soos in die verlede.

Daar kan baie verwarring ontstaan oor opmerkings oor “tuisonderrig” in die media die afgelope tyd. Tuisonderrig beteken u doen aansoek by die Gauteng Onderwys Departement om u skoolpligtige kind (graad 9 of 15 jaar) tuis te onderrig. U kry hierdie toestemming en registreer u kind by ‘n geakkrediteerde diensverskaffer. U kind word met ‘n oorplasingskaart van H/S Pretoria- Noord se registers verwyder en verbeur sy / haar plek by H/S Pretoria-Noord. Sou u kind weerwou terugkom na PNHS, word u aansoek geag ‘n nuwe aansoek by PNHS met dien verstande dat PNHS se toelatingsbeleid duidelik bepaal dat ons geen leerders uit tuisonderrig in graad 11 en 12 aanvaar nie, verder dat u kind se standaard eers getoets sal word vir graad 8 – 10 deur ons skoolsielkundige en bo en behalwe hierdie kriteria dat daar wel plek sal wees in die skool, iets wat oor die afgelope paar jaar nie bestaan nie. Lees asseblief in hierdie verband FEDSAS se gids vir ouers baie noukeurig deur.

Inskrywing vir graad 8 vir 2021

Ouers neem ook kennis in hierdie verband van die afkondiging dat die aanlyn-aansoek proses slegs 1 maand sal wees, dit is vanaf: 25 Junie 2020 tot 25 Julie 2020. Die proses gaan nog steeds aanlyn wees, dokumentasie moet binne 7 dae van aansoek ingedien word om plek te bevestig. Dokumentasie kan aanlyn ingedien word of by die skool self, by ons navraetoonbank vanaf 08H00 – 14H00. Wat uiters belangrik is, is dat ouers so vinnig as moontlik aanlyn aansoek doen. Weet ook dat wanneer aansoeke oop gemaak het die afgelope paar jaar was H/S Pretoria-Noord reeds binne die eerste paar uur van dag 1 vol. Indien u ‘n kind het of iemand ken, versprei asseblief hierdie inligting en maak seker u is gereed om eerste in lyn te wees. Ouers ons skool en beheerliggaam het die afgelope paar jaar agteroor gebuig om plek te maak vir alle Afrikaanse ouers in ons omgewing, ten koste van oorvol klasse. Besef dat dit nie verder kan gebeur nie gegewe die huidige omstandighede. Daar sal slegs plek wees vir 200 graad 8 leerders in 2021 by H/S Pretoria-Noord. Ons wil ook verder versoek dat as ons nie u nommer 1 keuse is nie, dat u nie by ons sal aansoek doen nie, want dit weerhou ons om plek te verskaf aan ouers vir wie ons wel die nommer 1 keuse is.

Leierskap: PN Raad - verkiesing

Neem asseblief kennis van die bestuursplan vir die verkiesing van ons PN Raad 2021:

Datum Aktiwiteit
7 – 8 Julie Kennisgewing van nominasies
9 Julie Nominasieproses begin
16 Julie Nominasies sluit om 15H00
17 Julie PN Raad Veto vergadering
20 Julie Bekendmaking van kandidatelys, Apélle na BL
22 Julie Apélle sluit om 15H00
29 Julie Sperdatum vir terugvoer op apélle.
30 Julie Opstel van stembriewe
30 Julie – 3 Augustus Kontrole van stembriewe
4 Augustus PN Raad verkiesing Groep A
5 Augustus PN Raad verkiesing Groep B
  Stemme word getel 15H00
6 Augustus Kontrole van stemme
7 Augustus Bekendmaking van PN Raad
12 – 20 Augustus Observasie en Diens
21 – 23 Augustus Gagkamp by H/S Pretoria-Noord
23 Augustus PN Raad verkies hoofleiers
24 Augustus Terugvoer van kamp
  Personeel verkies hoofleiers
26 Augustus PN Raad inhuldiging
  Bekendmaking van hoofleiers
Dissipline

Geagte ouers ons het reeds genoem dat dissipline vir ons gedurende hierdie tyd ononderhandelbaar is. Dankie vir ons leerders wat in hierdie verband absoluut hulle samewerking gee.

Ons het oor die afgelope tyd bietjie skiet gegee oor voorkoms in terme van die haarreëls omdat haarkappers nie oop was nie. Dit is egter so dat haarkappers nou weer ‘n geruime tyd oop is en is dit ons versoek dat ouers asseblief seker sal maak dat hulle kinders se hare en voorkoms voldoen aan die neergelegte skoolreëls.

Program vir die week

Maandag, 20 Jul:

  • Graad 8-12 rotasie: B-groep, dag 3.
  • PN-Raadverkiesing, kandidatelys word bekend gemaak, appélle na BL voorsitter.

Dinsdag, 21 Jul:

  • Graad 8-12 rotasie: A-groep, dag 4.

Woensdag, 22 Jul:

  • Graad 8-12 rotasie: B-groep, dag 4.
  • PN-Raad verkiesing, Appélle na BL voorsitter sluit om 15H00.

Donderdag, 23 Jul:

  • Graad 8-12 rotasie: A-groep, dag 5.

Vrydag, 24 Jul:

  • Graad 8-12 rotasie: B-groep, dag 5.

Saterdag, 25 Jul:

  • Toetsdag: Leerders meld stiptelik om 07H30 aan by Berglaanhek vir inteken. Toets begin 08H00 tot 09H15. Graad 11: Engels.
  • Toetsdag: Leerders meld stiptelik om 09H00 aan by Berglaanhek vir inteken. Toets begin 09H30 tot 10H40. Graad 10: Wiskunde en Wiskundige Geletterdheid.

Aflaai aanhangsel

Terug