Omsendbrief 20/2020

Omsendbrief 20/2020

Administratief
June 25, 2020


Geagte ouers
Heropening van H/S Pretoria-Noord

Ons kan terug rapporteer dat ons graad 12 leerders se week drie terug by die skool sonder voorval verloop het en daar word fluks gewerk om hulle gereed te kry vir hul rekordeksamen. Ons skoolbywoning vir die hierdie week was 94%.

Na die uitreiking van nuwe regulasies in gazette 43464 van 23 Junie 2020 het ons uiteindelik goedkeuring van die Hoof van die Gauteng Onderwys Departement om ons skool vroeër te heropen vir ons ander grade. Ons is baie dankbaar hiervoor en glo dit is in die beste belang van ons leerders. Met goedkeuring van ons Beheerliggaam is ons skedule vir heropening asvolg:

Graad 11 op Maandag, 29 Junie 2020
Graad 10 op Maandag, 6 Julie 2020
Graad 9 op Maandag, 13 Julie 2020
Graad 8 op Maandag 20 Julie 2020.

Ons bevestig net weer vir ons graad 11 leerders dat om te voldoen aan die vereistes van ‘n 1,5 m veiligheidsafstand, slegs 50% van kapasiteit en ongeveer 20 leerders per klas, het ons ter wille van veiligheid besluit om ‘n rotasie stelsel te volg. Hiervolgens sal alle graad 11 leerders met vanne A - L groep A vorm en op Maandag, 29 Junie 2020 begin met dag 2 op hul rooster. Alle leerders met vanne M – Z sal groep B vorm en vanaf Dinsdag, 30 Junie begin met dag 2 op hul rooster, terwyl A – L (groep A) dan ‘n tuis studiedag sal hê. So sal groep A en B om die beurt roteer om by die skool te wees. Leerders kan nie groepe ruil nie en slegs leerders in die spesifieke groep sal op hulle dag by die skool toegelaat word. Baie streng kontrole sal geld by die hekke.

Vir ons ander grade gaan aanlyn onderrig voluit voort, totdat hulle terug is by die skool.

Vir u gerief gaan ons elke keer wanneer ‘n graad terugkeer ons COVID 19 protkol vir u herhaal sodat ouers en leerders hulself kan vergewis van ons nuwe werkswyse by die skool en hulself voortydig kan orienteer ten opsigte hiervan.

Sertifikate / permitte vir leerders wat skool bywoon

Geagte ouers neem ook kennis dat alle leerders ‘n sertifikaat / permit vir toestemming om skool by te woon sal ontvang met hul eerste dag terug by die skool. Maak asseblief seker dat u kind hierdie sertifikaat / permit ten alle tye by hulle het wanneer hulle skool toe en terug huis toe beweeg.

Disinfekteringstonnels

Die veiligheidspesifikasies rondom die produk wat in ons tonnels gebruik word is deurgegee aan ons Beheerliggaam en ons is tevrede dat hierdie produk veilig is vir ons leerders. Dit is ‘n organiese produk wat nie chloor of alkohol bevat nie en wat ontwikkel is vir die myne.

Aangesien hierdie veiligheidsmaatreel een is wat bo en behalwe die vereiste maatreels geneem word sal geen leerder van H/S Pretoria-Noord gedwing word om daarvan gebruik te maak nie en lê die keuse by u en u kind of u daarvan gebruik wil maak aldan nie.

Dit sal ook beskikbaar wees na skool vir leerders wat daar deur wil loop voor hul na hul huise terugkeer.

Die skooldag

Ons bevestig net weer dat die skooldag word verleng ten einde tyd op te maak vir verlore tyd asook die nuwe rotasiestelsel en sal om 07H20 begin en eindig om 15H00. Die skool sal Vrydae om 14h00 eindig.

Periodes sal om en by 50 minute wees met twee pouses van 25 minute elk.

Geen saalopeninge sal meer gehou word nie en leerders sal nie meer aantree in die oggende nie, maar direk na hulle voogklasse beweeg as die klok om 07H20 lui vir die begin van die skooldag. Opening en afkondigings sal deur die interkom in voogklasse hanteer word.

Geen toetsperiodes sal gehou word nie en enkele toetse wat hierdie kwartaal afgehandel moet word sal op Saterdae geskeduleer word. Hou asb. die assessering op die nuwe kwartaalprogram dop.

Ons behou ons LOBO program en leerders sal hier spesifiek geestelik ondersteun word ten midde van hierdie nuwe wêreldbedreiging wat ook ‘n geweldige sielkundige impak op ons leerders kan hê. Ons jeugwerkers asook skoolsielkundiges staan gereed om u kind by te staan.

Veiligheidsmaatreëls binne die skool

Soos reeds genoem sal geen persoon sonder die voorgeskrewe gesigmasker of skerm in die skool toegelaat word nie, dit sal impliseer dat die leerder wel sy eie masker gaan benodig om dieskool te kan binnekom. Leerders wat nie ‘n gesigmasker het nie kan kontak maak met Mev. S de Wit by [email protected] om te reël vir ‘n geskenkte gesigmasker. Leerders mag ook sy eie masker of ‘skerm’ dra, solank die masker net voldoen aan die voorskrifte van die Wêreldgesondheids-organisasie en regulasies.

Leerders sal slegs toegang tot die skool hê deur die Berglaanhek. Leerders sal vanaf 06H30 toegang hê tot die skoolterrein. Met hul aankoms sal elke leerder en personeellid se hande gesaniteer word, temperatuur geneem word en ‘n vraelys oor simptome voltooi word. Hierbenewens sal elke personeellid en leerder ook deur ‘n saniteringstonnel beweeg wat ook klere, skoene en tasse sal saniteer.

Personeel met ‘n temperatuur van 38oC en hoër sal onmiddellik huistoe gestuur word om hulself te laat toets, leerders met ‘n temperatuur van 38oC en hoër sal in ‘n isolasielokaal (PN Raadskamer) geplaas word, hul ouers sal gekontak word om hulle af te haal en te laat toets. Sodanige personeel en leerders sal slegs weer toegelaat word met bewys van ‘n mediese sertifikaat. Besoekers met ‘n temperatuur van 38oC en hoër of enige moontlike simptome sal nie toegelaat word tot die skool nie.

Positiewe toetsing vir COVID-19 moet asseblief onmiddellik met bewys van ‘n mediese sertifikaat by die hoof gerapporteer word.

‘n Sosiale afstand van 1,5 M sal ten alle tye in die skool gehandhaaf word. Geen persoonlike kontak op welke wyse ook al tussen persone nie.

Leerders se hande sal gesaniteer word elke keer wanneer hulle ‘n klaskamer / kleedkamer binnegaan. Leerders mag ook hul eie saniteerder saambring. Tafels, oppervlaktes en toerusting sal ook gedisinfekteer word tydens elke klaswisselling.

Daar sal slegs eenrigting verkeer wees tydens klaswisselling en leerders sal ten alle tye ‘n volgafstand van 1,5M handhaaf, terwyl onderwysers buite hulle klasse sal toesig hou. Klasse se vensters en deure moet altyd oop wees vir goeie ventilasie, maak seker dat u kind warm aantrek op koue dae.

Leerders mag geen toerusting, skryfbehoeftes, handboeke of skrifte van ander leen nie of eetgoed deel nie.

Leerders moet asseblief hulle eie waterbottels bring en nie direk uit krane water drink nie.

Identifisering en bekamping van COVID-19

U kan ons ook tuis help om ons skool veilig te hou, deur u kind se gesondheid fyn te monitor en u kind ‘n higiëniese leefstyl aan te leer.

Van die geïdentifiseerde simptome van die siekte is onder andere: lyfseer, droë hoes, kortasem, verlies van smaak, diarree, naarheid en braking en buitengewone moegheid. Indien u kind hierdie simptome toon met ‘n gepaardgaande hoë koors moet hom / haar asseblief nie skool toe stuur nie en win mediese advies in.

Die verspreiding van die siekte kan verhoed word deur persoonlike higiëne op te skerp:

  • Gereeld hande te was met seep en water vir ten minste 20 sekondes.
  • Daagliks te stort / bad, naels en tande skoon te hou en skoon klere aan te trek.
  • Moenie aan gesigte raak nie en vermy kontak met oë, mond en neus.
  • Gebruik die hoek van ‘n elmboog of sneesdoekie as jy hoes / nies.
Skoolbywoning

Alhoewel ons versoek dat leerders wat simptome toon eerder by die huis moet bly, is dit noodsaaklik dat gesonde leerders wel skool toe kom. U sou besef het dat aanlyn-onderrig onder geen omstandighede ‘n plaasvervanger vir ‘n onderwyser in ‘n klas kan wees nie. Leerders word wetlik verplig om by die skool te wees en vir grade wat infaseer skop die regulasies rondom skoolbywoning weer in. Leerders sonder mediese afwesigheid van langer as 10 dae aaneenlopend afwesig sal van die register verwyder word.

Die uitsondering hier is leerders wat hoë risiko siektes en onderliggende siektetoestande (“comorbidities”), onder andere hartsiektes, long siektes, kanker en / of ‘n gebrekkige immuniteit-sisteem het. Elke leerder sal ‘n gesondheidsvraelys ontvang met hul eerste dag van skoolbywoning wat voltooi moet word en terug besorg moet word aan die voogonderwyser tydens die volgende voogperiode. Indien ‘n leerder positief antwoord op een van die onderliggende gesondheidstoestande kan ‘n aansoek gerig word met ‘n gepaardgaande mediese sertifikaat as bewys vir ondersteunende tuisonderrig. Sodanige leerders sal ons verder aanlyn-probeer help, met ouers wat self werk kom afhaal en inhandig by die skool soos in die verlede.

Daar kan baie verwarring ontstaan oor opmerkings oor “tuisonderrig” in die media die afgelope tyd. Tuisonderrig beteken u doen aansoek by die Gauteng Onderwys Departement om u skoolpligtige kind (graad 9 of 15 jaar) tuis te onderrig. U kry hierdie toestemming en registreer u kind by ‘n geakkrediteerde diensverskaffer. U kind word met ‘n oorplasingskaart van H/S Pretoria- Noord se registers verwyder en verbeur sy / haar plek by H/S Pretoria-Noord. Sou u kind weer wou terugkom na PNHS, word u aansoek geag ‘n nuwe aansoek by PNHS met dien verstande dat PNHS se toelatingsbeleid duidelik bepaal dat ons geen leerders uit tuisonderrig in graad 11 en 12 aanvaar nie, verder dat u kind se standaard eers getoets sal word vir graad 8 – 10 deur ons skoolsielkundige en bo en behalwe hierdie kriteria dat daar wel plek sal wees in die skool, iets wat oor die afgelope paar jaar nie bestaan nie. Lees asseblief in hierdie verband FEDSAS se gids vir ouers baie noukeurig deur.

Inskrywing vir graad 8 vir 2021

Ouers neem ook kennis in hierdie verband van die afkondiging dat die aanlyn-aansoek proses slegs 1 maand sal wees, dit is vanaf: 25 Junie 2020 tot 25 Julie 2020. Die proses gaan nog steeds aanlyn wees, dokumentasie moet binne 7 dae van aansoek ingedien word om plek te bevestig. Dokumentasie kan aanlyn ingedien word of by die skool self, by ons navraetoonbank vanaf 08H00 – 14H00. Om werkende ouers te akkommodeer sal ons navraetoonbank ook na-ure oop wees op Maandag, 29 Junie tot Woensdag, 1 Julie vanaf 17H00 – 19H00. Wat uiters belangrik is, is dat ouers so vinnig as moontlik aanlyn aansoek doen. Weet ook dat wanneer aansoeke oop gemaak het die afgelope paar jaar was H/S Pretoria-Noord reeds binne die eerste paar uur van dag 1 vol. Indien u ‘n kind het of iemand ken, verspreiasseblief hierdie inligting en maak seker u is gereed om eerste in lyn te wees. Ouers ons skool en beheerliggaam het die afgelope paar jaar agteroor gebuig om plek te maak vir alle Afrikaanse ouers in ons omgewing, ten koste van oorvol klasse. Besef dat dit nie verder kan gebeur nie gegewe die huidige omstandighede. Daar sal slegs plek wees vir 200 graad 8 leerders in 2021 by H/S Pretoria-Noord. Ons wil ook verder versoek dat as ons nie u nommer 1 keuse is nie, dat u nie by ons sal aansoek doen nie, want dit weerhou ons om plek te verskaf aan ouers vir wie ons wel die nommer 1 keuse is.

Krieket

Baie geluk aan ons 0/14 krieketspan van 2019 wat tydens Northerns Cricket se virtuele toekenningsfunksie as ligawenners 2019 aangewys is.

Tennis

Mnr. Sakkie van Niekerk het kennis gegee dat Pretoria-Noord tennisklub weer oop is. Hy sal dan weer beskikbaar wees vir ons leerders vir afrigting op Maandae vanaf 14H30, by Pretoria-Noord tennisklub. Indien leerders skool het op ‘n Maandag moet hulle net so gou as moontlik na 15H00 by hom aansluit.

Program vir die week

Maandag, 29 Jun:

  • Graad 12 rotasie: A-groep, dag 2: vanne A – L.
  • Graad 11 rotasie: A-groep, dag 2: vanne A – L.

Dinsdag, 30 Jun:

  • Graad 12 rotasie: B-groep, dag 2: vanne: M – Z.
  • Graad 11 rotasie: B-groep, dag 2: vanne: M – Z.

Woensdag, 01 Jul:

  • Graad 12 rotasie: A-groep, dag 3: vanne A –L.
  • Graad 11 rotasie: A-groep, dag 3, vanne A - L.

Donderdag, 02 Jul:

  • Graad 12 rotasie: B-groep, dag 3: vanne: M – Z.
  • Graad 11 rotasie: B-groep, dag 3: vanne: M – Z.

Vrydag, 03 Jul:

  • Graad 12 rotasie: A-groep, dag 4: vanne A – L.
  • Graad 11 rotasie: A-groep, dag 4: vanne A – L.

Saterdag, 04 Jul:

  • Graad 12 toetsdag: Afrikaans. Leerders meld stiptelik om 07H30 aan by Berglaanhek vir inteken. Toets begin 08H00 tot 09H15.
  • Graad 12 toetsdag: IGO begin om 09H30 tot 11H30 in K9.

Aflaai aanhangsel

Terug