Sportverslag Julie 2020

Sportverslag Julie 2020

Administratief
July 29, 2020


PNHS-Sport bou voort ten spyte van Covid-19

SWEM

Swem borrel deur ons are by PNHS en ons is dankbaar dat ons die seisoen kon voltooi. Ons het nog ‘n suksesvolle jaar agter die rug en ons spog met 20 medaljes wat ons ingesamel het by die 2020-Interhoër. Ons is baie trots op ons PNHS-swemspan, asook ons afrigters. Ons eindig algeheel 5de as skool en ons dogters eindig 6de, ons seuns eindig derde.

Ons swemmers ontvang baie persoonlike aandag en kennis van ons afrigters en ons wil hulle bedank vir die wyse waarop hulle die swemspan afrig. Ons swemmers sal onder leiding van mnr. Ruan Marias en me. Ruane Swart op n gimnasiumprogram geplaas word wat swemspesifiek sal wees. Ons sien uit na ‘n opwindende 2021 in die swembad.

SKAAK

Ons skaak onder leiding van me. Gustie Prins het lekker vlam gevat, haar kreatiewe aanslag het die skaak verbeter en ons spelers uitgedaag om beter en flinker te dink. Ons het in 2020 drie oefenwedstryde gespeel en alles gewen teen H/S Delmas, H/S Oosterland en H/S Stofberg. Huidiglik speel ons aanlyn skaak om hul vaardighede op te skerp en in spel te bly. Indien 2020 weer n geleentheid bied om ons breinkrag te toets op die skaakbord, sal ons verseker die tyd benut.

NETBAL

Ons PNHS Netbal het in 2020 goed uit die blokke gekom met ons meisies wat ‘n goeie oefenprogram gevolg het, onder leiding van top-afrigters. Ons het in die Puk-16 baie goed gedoen en meeste van ons wedstryde nie net gewen nie, maar goed gewen. Ons is steeds opgewonde oor die res van die jaar al dink Covid-19 dit het ons geklop.

Ons mag nie op die baan wees nie, maar ons rig steeds af op Google classroom met video's en oefeninge wat ons vir ons speelsters laai op ‘n weeklikse basis om hulle beter voor te berei vir 2021.

Ons netbal sal in ons gimnasium voorsien word met netbal spesifieke oefenprogramme om hulle op ‘n gereedheidsvlak vir 2021 te plaas.

TENNIS 2020

Ons 2020-tennisseisoen het afgeskop en is ook tot ‘n stilstand gedwing a.g.v van die Coronavirus. Ons tennisspan het ‘n goeie begin gehad en ‘n paar goeie wenresultate behaal.

Ons het uitgesien na ‘n baie goeie tennisseisoen.

Onder leiding van die hoofafrigter, mnr. Sakkie van Niekerk, beoog ons om ons meisies- en seunstennis te laat groei en die vlak van deelname te bevorder.

Ons gimnasium is daar om ons leerders te help om ‘n goeie fondasie te lê, ons verwag om terug in die gimnasium te wees sodra die regulasies dit toelaat.

Ons motiveer tans spelers om saam met ons afrigters te werk op ‘n individuele basis. Ons sien uit na n baie goeie 2021 Tennisseisoen.

RUGBY

Ons rugbyseisoen het goed afgeskop met die jaarlikse PUK-16 waar die Swart Leeus, 2de span en 0/15 Tiere al hulle wedstryde gewen het. Die 0/16 Luiperds en 0/14 Rooikatte het slegs een wedstryd verloor.

Ongelukkig het Covid-19 ons seisoen tot stilstand gebring. Ons is reeds besig om agter die skerms te werk aan volgende jaar se rugbyprogram en ons is opgewonde oor die 2021 seisoen.

Ons het reeds begin met ‘n afrigtingskliniek op 24 Junie 2020 met Sean Erasmus (Emirates Lions) as ons spreker. Ons hou ons seuns besig op Google classroom met video’s en aanlynafrigting om hulle vaardighede op te skerp. Die seuns gaan hulle self, sodra die regulasies dit toelaat, in die gimnasium bevind met n posisie-spesifieke program.

KRIEKET

Die krieketseisoen, het nog nie eers begin nie toe slaan Covid19 ons vir ‘n ses. Ons was opgewonde oor die 2020-seisoen onder leiding van hoofafrigter, mnr. Itumeleng Moseki speler van die Northern Titans.

Ons het intussen besluit om die seuns aanlyn af te rig met video’s wat weekliks gestuur word om krieketvaardighede te verbeter, alles onder die direksie van ons vaardige hoofafrigter. Ons topklas gimnasium sal ook gebruik word om ons krieketmanne te kondisioneer deur om krieketgespesifiseerde oefenprogramme te volg. Ons sien uit na n baie goeie 2021-seisoen.

ATLETIEK

Ons atletiekseisoen het baie goed gegaan, al was ons voorbereiding bietjie op die agtervoet gesit met twee oefenbyeenkomste wat uitgereën het in die opbou na Interhoer. Ons het baie goed gedoen by al die oefenbyeenkomste en ons het ons B-bond status behou ten spyte van baie sterk kompetisie. Ons het 30 medaljes verwerf waarvan 9 goud was.

Ons is trots op ons atlete en ons afrigters en is besig om alles in plek te kry vir ‘n groot 2021 atletiekseisoen.

Ons atlete gaan begin gebruik maak van ons gimnasium waar hul op spesifieke programme geplaas gaan word om hulle die voorsprong te gee wat ‘n atleet benodig op die baan en veld.

SAGTEBAL

Ons sagtebal is elke jaar baie kompeterend en 2020 sou nie anders gewees het nie. Ons staan bekend as een van die skole wat uitstaan as dit by diè aktiwiteit kom. Die besluit is gemaak dat die seisoen nie sal aangaan nie, maar ons sal spelers wel in die gimnasium ontvang om sodoende steeds ‘n verskil te maak.

Ons sal ook via video’s wat afrigters stuur aan die spelers hulle motiveer om hulle vaardighede te verbeter.

GHOLF

Om ‘n gholfbal te slaan bly seker een van die lekkerste dinge om te doen, maar Covid-19 het ons gholfseison tot ‘n einde gebring. Ons wil ons gholfprogram bevorder en verbeter , ons beplan om vir ons ‘n paar gate te bou by die skool, asook ‘n sandkuil om ons spel te verbeter.

Dit sal beteken ons kan ons sessies interessant hou en spelers geleentheid gee om by die skool te oefen.

Die keuse is gemaak om te verbeter en om nie te stagneer nie, dit gaan vir ons om geleenthede te skep vir ons leerders.

Ons sien uit na n opwindende 2021 gholfseisoen.

HOKKIE

Ons hokkie het goed begin die jaar met proewe wat reeds in Februarie plaasgevind het. Ons het hard gewerk aan ons fiksheid en vaardighede en dit het regtig begin wys. Ons het drie wedstryde in die Puk-16 gespeel, maar dit was alles kortgeknip dur Covid-19.

Ons het baie goed gevorder en wou opbou na ‘n baie goeie liga vertoning en ons kon definitief ‘n verbetering sien in ons hokkie.

Ons hokkie onder leiding van me. Liza Bischoff en mnr. Ruan Marais word bevorder deur van Google classroom gebruik te maak en ons spelers aanlyn af te rig met video’s wat hulle vaardighede verbeter.

Ons kan net ons afrigters bedank wat kies om die tyd te gebruik om ons hokkie-spelers te verbeter. Ons gaan ons hokkie-spelers in ons gimnasium kry sodra die regulasies dit toelaat om hulle sterker en beter te kry met hokkie-spesifiekeprogramme.

JUKSKEI

Ons jukskeiseisoen was gestop voordat dit eers kon begin a.g.v Covid-19. Dit is een van die sporte wat ons leerders baie geniet en dit is ook ‘n sport wat baie vaardigheid insluit. Ons het besluit om jukskei aanlyn te laat seevier en ons spelers weekliks te verbeter met aanlyn video’s.

Ons glo opreg dat iets doen beter as niks doen is, en alles sal bestuur word onder leiding van me. Carla Bruyns en ons is opreg dankbaar vir haar positiewe dryfkrag.

LANDLOOP

Ons landloop het vroeg in 2020 afgeskop met sessies wat deur ons afrigter me. Carol Goodinson gelei is. Ons kan sien hoe ons seuns en dogters se fiksheid verbeter en ons het groot verwagtinge gehad vir ons landloopspan vir 2020.

Covid-19 het ander idees gehad en ons seisoen tot ‘n einde gebring. Ons weet dat ons afrigter weer ons leerders op dreef sal bring sodra die regulasies dit toelaat.

Ons sien uit na n groot 2021-Landloopseisoen. Ons top gimnasium sal ook gebruik word om ons atlete sterkter te maak.

Aflaai aanhangsel

Terug