Omsendbrief 17/2020

Omsendbrief 17/2020

Administratief
June 05, 2020


Geagte ouers
Heropening van H/S Pretoria-Noord

Geagte ouers dit is vir ons aangenaam om te rapporteer dat ons skool geinspekteer is op 4 Junie 2020 deur ons distrik asook op nasionale vlak deur die Departement van Basiese Onderwys en veilig verklaar is.

In ooreenstemming met die Minister van Onderwys se opdrag en regulasies gepubliseer sal ons graad 12 leerders nou vanaf 8 Junie 2020 weer kan aanmeld by die skool. Ons verwys u weer na omsendskrywe 15 van 2020 om uself te vergewis van al die veiligheidsmaatreëls by die skool.

Ons bevestig net weer dat om te voldoen aan die vereistes van ‘n 1,5 m veiligheidsafstand en ongeveer 20 leerders per klas, het ons ter wille van veiligheid besluit om ‘n rotasie stelsel te volg. Hiervolgens sal alle graad 12 leerders met vanne A - L groep A vorm en op Maandag, 8 Junie 2020 begin met dag 1 op hul rooster. Alle leerders met vanne M – Z sal groep B vorm en vanaf Dinsdag, 9 Junie begin met dag 1 op hul rooster, terwyl A – L (groep A) dan ‘n tuis studiedag sal hê. So sal groep A en B om die beurt roteer om by die skool te wees. Leerders kan nie groepe ruil nie en slegs leerders in die spesifieke groep sal op hulle dag by die skool toegelaat word. Baie streng kontrole sal geld by die hekke.

Voorlopige datums vir die infasering van ander grade volgens die nuutste regulasies is as volg:

  • Graad 10 en Graad 11 – 6 Julie
  • Graad 8 en 9 – 3 Augustus

Vir hierdie grade gaan aanlyn onderrig voluit voort, totdat hulle terug is by die skool. Ons wys u ook daarop dat volgens die ammendamente op die regulasies, wat uitgevaardig is op 1 Junie 2020, ‘n skool wel sal kan aansoek doen by die Hoof van die Gauteng Onderwys Departement om af te wyk van hierdie datums. Ons sal u egter op datum hou indien daar enige verandering is, hou asseblief ons omsendskrywes fyn dop in hierdie verband.

Sertifikate vir leerders wat skool bywoon

Geagte ouers neem ook kennis dat alle leerders ‘n sertifikaat vir toestemming om skool by te woon sal ontvang met hul eerste dag terug by die skool. Maak asseblief seker dat u kind hierdie brief / sertifikaat ten alle tye by hulle het wanneer hulle skool toe en terug huis toe beweeg.

Disinfekteringstonnels

U sou opmerk dat daar die afgelope week geweldig baie polemiek rondom hierdie tonnels was in die nuus.

Die veiligheidspesifikasies rondom die produk wat in ons tonnels gebruik word is hierdie week deurgegee aan ons Beheerliggaam en ons is tevrede dat hierdie produk veilig is vir ons leerders. Dit is ‘n organiese produk wat nie chloor of alkohol bevat nie en wat ontwikkel is vir die myne.

Aangesien hierdie veiligheidsmaatreël een is wat bo en behalwe die vereiste maatreëls geneem word sal geen leerder van H/S Pretoria-Noord gedwing word om daarvan gebruik te maak nie en lê die keuse by u en u kind of u daarvan gebruik wil maak aldan nie.

Dit sal ook beskikbaar wees na skool vir leerders wat daar deur wil loop voor hul na hul huise terugkeer.

Die skooldag

Ons bevestig net weer dat die skooldag word verleng ten einde tyd op te maak vir verlore tyd asook die nuwe rotasiestelsel en sal om 07H20 begin en eindig om 15H00. Die skool sal Vrydae om 14h00 eindig.

Periodes sal om en by 50 minute wees met twee pouses van 25 minute elk.

Geen saalopeninge sal meer gehou word nie en leerders sal nie meer aantree in die oggende nie, maar direk na hulle voogklasse beweeg as die klok om 07H20 lui vir die begin van die skooldag. Opening en afkondigings sal deur die interkom in voogklasse hanteer word.

Geen toetsperiodes sal gehou word nie en enkele toetse wat hierdie kwartaal afgehandel moet word sal op Saterdae geskeduleer word. Hou asb. die assessering op die nuwe kwartaalprogram dop.

Ons behou ons LOBO program en leerders sal hier spesifiek geestelik ondersteun word ten midde van hierdie nuwe wêreldbedreiging wat ook ‘n geweldige sielkundige impak op ons leerders kan hê. Ons jeugwerkers asook skoolsielkundiges staan gereed om u kind by te staan.

Veiligheidsmaatreëls binne die skool

Soos reeds genoem sal geen persoon sonder die voorgeskrewe gesigmasker of skerm in die skool toegelaat word nie. Die Gauteng Departement van Onderwys verskaf twee gesigmaskers per leerder, wat uitgereik sal word tydens hulle eerste voogperiode, dit sal impliseer dat die leerder wel sy eie masker gaan benodig om die skool te kan binnekom. Leerders wat nie ‘n gesigmasker het nie kan kontak maak met Mev. S de Wit by [email protected] om te reël vir ‘n geskenkte gesigmasker. Leerders mag ook sy eie masker of ‘skerm’ dra, solank die masker net voldoen aan die voorskrifte van die Wêreldgesondheids-organisasie en regulasies.

Met hul aankoms sal elke leerder en personeellid se hande gesaniteer word, temperatuur geneem word en ‘n vraelys oor simptome voltooi word. Hierbenewens sal elke personeellid en leerder ook deur ‘n saniteringstonnel beweeg wat ook klere en tasse sal saniteer.

Personeel met ‘n temperatuur van 38ºC en hoër sal onmiddellik huistoe gestuur word om hulself te laat toets, leerders met ‘n temperatuur van 38ºC en hoër sal in ‘n isolasielokaal (PN Raadskamer) geplaas word, hul ouers sal gekontak word om hulle af te haal en te laat toets. Sodanige personeel en leerders sal slegs weer toegelaat word met bewys van ‘n mediese sertifikaat. Besoekers met ‘n temperatuur van 38ºC en hoër of enige moontlike simptome sal nie toegelaat word tot die skool nie.

Positiewe toetsing vir COVID-19 moet asseblief onmiddellik met bewys van ‘n mediese sertifikaat by die hoof gerapporteer word.

‘n Sosiale afstand van 1,5 M sal ten alle tye in die skool gehandhaaf word. Geen persoonlike kontak op welke wyse ook al tussen persone nie.

Leerders se hande sal gesaniteer word elke keer wanneer hulle ‘n klaskamer / kleedkamer binnegaan. Leerders mag ook hul eie saniteerder saambring. Tafels, oppervlaktes en toerusting sal ook gedisinfekteer word tydens elke klaswisselling.

Daar sal slegs eenrigting verkeer wees tydens klaswisselling en leerders sal ten alle tye ‘n volgafstand van 1,5M handhaaf, terwyl onderwysers buite hulle klasse sal toesig hou.

Klasse se vensters en deure moet altyd oop wees vir goeie ventilasie, maak seker dat u kind warm aantrek op koue dae.

Leerders mag geen toerusting, skryfbehoeftes, handboeke of skrifte van ander leen nie of eetgoed deel nie.

Leerders moet asseblief hulle eie waterbottels bring en nie direk uit krane water drink nie.

Identifisering en bekamping van COVID-19

U kan ons ook tuis help om ons skool veilig te hou, deur u kind se gesondheid fyn te monitor en u kind ‘n higiëniese leefstyl aan te leer.

Van die geïdentifiseerde simptome van die siekte is onder andere: lyfseer, droë hoes, kortasem, verlies van smaak, diarree, naarheid en braking en buitengewone moegheid. Indien u kind hierdie simptome toon met ‘n gepaardgaande hoë koors moet hom / haar asseblief nie skool toe stuur nie en win mediese advies in.

Die verspreiding van die siekte kan verhoed word deur persoonlike higiëne op te skerp:

  • Gereeld hande te was met seep en water vir ten minste 20 sekondes.
  • Daagliks te stort / bad, naels en tande skoon te hou en skoon klere aan te trek.
  • Moenie aan gesigte raak nie en vermy kontak met oë, mond en neus.
  • Gebruik die hoek van ‘n elmboog of sneesdoekie as jy hoes / nies.
Skoolbywoning

Alhoewel ons versoek dat leerders wat simptome toon eerder by die huis moet bly, is dit noodsaaklik dat gesonde leerders wel skool toe kom. U sou besef het dat aanlyn-onderrig onder geen omstandighede ‘n plaasvervanger vir ‘n onderwyser in ‘n klas kan wees nie. Leerders word wetlik verplig om by die skool te wees en vir grade wat infaseer skop die regulasies rondom skoolbywoning weer in. Leerders sonder mediese afwesigheid van langer as 10 dae aaneenlopend afwesig sal van die register verwyder word.

Die uitsondering hier is leerders wat hoë risiko siektes en onderliggende siektetoestande (“comorbidities”), onder andere hartsiektes, long siektes, kanker en / of ‘n gebrekkige immuniteit-sisteem het. Elke leerder sal ‘n gesondheidsvraelys ontvang met hul eerste dag van skoolbywoning wat voltooi moet word en terug besorg moet word aan die voogonderwyser tydens die volgende voogperiode. Indien ‘n leerder positief antwoord op een van die onderliggende gesondheidstoestande kan ‘n aansoek gerig word met ‘n gepaardgaande mediese sertifikaat as bewys vir ondersteunende tuisonderrig. Sodanige leerders sal ons verder aanlyn-probeer help, met ouers wat self werk kom afhaal en inhandig by die skool soos in die verlede.

Daar kan baie verwarring ontstaan oor opmerkings oor “tuisonderrig” in die media die afgelope tyd. Tuisonderrig beteken u doen aansoek by die Gauteng Onderwys Departement om u skoolpligtige kind (graad 9 of 15 jaar) tuis te onderrig. U kry hierdie toestemming en registreer u kind by ‘n geakkrediteerde diensverskaffer. U kind word met ‘n oorplasingskaart van H/S PretoriaNoord se registers verwyder en verbeur sy / haar plek by H/S Pretoria-Noord. Sou u kind weer wou terugkom na PNHS, word u aansoek geag ‘n nuwe aansoek by PNHS met dien verstande dat PNHS se toelatingsbeleid duidelik bepaal dat ons geen leerders uit tuisonderrig in graad 11 en 12 aanvaar nie, verder dat u kind se standaard eers getoets sal word vir graad 8 – 10 deur ons skoolsielkundige en bo en behalwe hierdie kriteria dat daar wel plek sal wees in die skool, iets wat oor die afgelope paar jaar nie bestaan nie. Lees asseblief in hierdie verband FEDSAS se gids vir ouers baie noukeurig deur.

Inskrywing vir graad 8 2021

Ouers neem ook kennis in hierdie verband van die afkondiging dat die aanlyn-aansoek proses slegs 1 maand sal wees, dit is vanaf: 25 Junie 2020 tot 25 Julie 2020. Die proses gaan nog steeds aanlyn wees, maar oor die wyse van inhandiging van dokumentasie by skole na aansoek sal ons nog met u kommunikeer gegewe die COVID 19 regulasies. Wat uiters belangrik is, is dat ouers so vinnig as moontlik aanlyn aansoek doen. Weet ook dat wanneer aansoeke oop gemaak het die afgelope paar jaar was H/S Pretoria-Noord reeds binne die eerste paar uur van dag 1 vol. Indien u ‘n kind het of iemand ken, versprei asseblief hierdie inligting en maak seker u is gereed om eerste in lyn te wees. Ouers ons skool en beheerliggaam het die afgelope paar jaar agteroor gebuig om plek te maak vir alle Afrikaanse ouers in ons omgewing, ten koste van oorvol klasse. Besef dat dit nie verder kan gebeur nie gegewe die huidige omstandighede. Daar sal slegs plek wees vir 200 graad 8 leerders in 2021 by H/S Pretoria-Noord. Ons wil ook verder versoek dat as ons nie u nommer 1 keuse is nie, dat u nie by ons sal aansoek doen nie, want dit weerhou ons om plek te verskaf aan ouers vir wie ons wel die nommer 1 keuse is.

Aflaai aanhangsel

Terug