Omsendbrief 13/2020

Omsendbrief 13/2020

Administratief
April 16, 2020


Geagte ouers

Dit is met skok en groot hartseer dat ons kennis geneem het van die afsterwe van een van ons graad 12 leerders, Natasha Smit, op Saterdag, 11 April 2020, nadat sy ‘n bloedklont in die long gekry het. Natasha laat ‘n oop plekkie by H/S Pretoria-Noord wat nie gevul kan word nie. Ons dra hierdie gesin aan die Here op. en vra vir vetroosting.

Korona Virus (Covid-19)
  • Geagte ouer soos u reeds kennis geneem het, het die president die noodtoestand in Suid-Afrika verleng tot 30 April 2020 met ‘n totale sluiting van alle aktiwiteite in Suid-Afrika. Ek bevestig die volgende implikasies vir ons met u:
  1. Volgens die nuutste reëlings word die skool se sluiting nou verleng vanaf Dinsdag, 17 Maart 2020 om 14H00 tot middernag 30 April 2020 en sal die skool volgens die nuutste noodtoestand eers weer open op Maandag 4 Mei 2020 om 07H20. Ouers neem egter kennis dat daar vandag weer verdere samesprekings is en dat ‘n verdere verlenging van die noodtoestand nie uitgesluit is nie. Ons verwag Vrydag, 17 April 2020 ‘n verdere aankondiging in hierdie verband. Hou asb. die nuus fyn dop.
  2. Die verlenging van die inperkingstyd noodsaak ons verder om Karnaval 2020 uit te stel en ons is tans besig met onderhandelinge met die gaskunstenaars. Hou asseblief die kaartjies en boekies wat u ontvang het, verdere reëlings en datums sal aan u deurgegee word sodra die skole weer amptelik open. Alle geskeduleerde buitemuurse aktiwiteite word op die ys geplaas en ‘n nuwe beplanning sal gedoen word sodra die skool weer amptelik heropen.
  3. Graad 8 inskrywings 2021. Ons wil sodanige ouers gerus stel. Daar is net een wettige proses van inskrywing en dit is die departementele aanlyn- aansoek proses. Daar is nog geen datum hiervoor uitgegee deur die Gauteng Departement van Onderwys nie. Sodra hierdie datum deurgegee word sal ons u eerste in kennis stel en sal u kan aansoek doen. Geen ander proses wat moontlik nou aan u deurgegee word is wettig of geldig nie en geen skool is by magte om tans enige leerder wettig in te skryf nie.
  4. Geagte ouers ons herhinner u net weer aan werk wat deurgegee word aan leerders om te doen vir die vakansie deur vakpersoneel. Hierdie lys is per graad en vak beskikbaar op ons webwerf asook D6 Kommunikeerder en word tans weer opgedateer met die nuwe verlenging van isolasie. Help ons om asseblief toe te sien dat dit gedoen word. Ons wil werklik verhoed dat ons leerders nie te vêr agter is wanneer normaliteit weer terugkeer nie. Ek herhinner u ook weer aan Solidariteit se wolkskool wat gratis beskikbaar is vir leerders. Wees gerus dat ‘n sinvolle opvangprogram wel gedoen sal word deur die skool onder leiding van die Departement van Onderwys en dat u kind nie benadeel sal word deur hierdie krisis nie.
  5. Ouers hierdie reelings kan weer verander word, met verdere aankondigings deur die president. Hou asseblief die nuus dop en ons sal ook poog om deurentyd met u te kommunikeer om u op hoogte te hou van skoolsake.
  6. Hou asseblief in gedagte dat God nog steeds in beheer is en dat selfs hierdie krisis verby sal gaan. Hierdie krisis bied nuwe uitdagings maar daarmee saam ook nuwe geleenthede, kom ons gryp dit aan en maak die beste daarvan! Onthou God laat alles ten beste uitwerk vir diegene wat Hom lief het en dit sluit in die grootste krisis. Baie sterkte aan almal en ek bid dat God se beskermende hand oor ons skool, gemeenskap en land sal wees.

Aflaai aanhangsel

Terug