Krieketverslag 2019

Krieketverslag 2019

Administratief
November 14, 2019


Krieketverslag 2019

Wat ‘n fantastiese jaar van krieket by PNHS. Ons wil dankie sê vir elke speler, afrigter, terreinpersoneel en tellinghouers wat die seisoen so besonders gemaak het. ‘n Spesiale woord van dank aan ons hoofafrigter Sheldon Lindique wat ‘n radikale omkeer-strategie bewerkstellig het om PNHS krieket in die regte rigting te stuur.

Ons ding mee in Northerns Krieket Unie se C-Liga en doen so met groot onderskeiding. Die ligastand aan die einde van die seisoen is as volg :

0/14 – Ligawenners. Julle was voorwaar voortreflik deur nie ‘n enkele wedstryd te verloor nie en alle opponent uit julle pad te vee.

0/15 – 2e in die liga met ‘n enkele punt. Wel gedaan. Julle was uitstekend en ons kon sien hoe julle groei in krieket deur die loop van die seisoen.

2e Span – 2e in die liga. Julle het uitstekend gevaar indien ons in ag neem dat daar verskeie junior spelers vir julle gespeel het. Julle was voorwaar ‘n toonbeeld van durf en moed.

1e Span –Uithou en aanhou was julle slagspreek. Julle het julself laat geld teen strawwe mededinging en eindig gelyk 3e op punte maar word 4e geplaas omdat ons teen Sutherland verloor het. Wel gedaan, ons is trots op julle.

Tydens ons meriete funksie het ‘n paar individue uitgestaan. Ons sê baie geluk aan Jadon Gordon, Ruan Ball en Henk Fick wat die volgende toekenings ontvang het :

Frits Snyman wisseltrofeevir die beste 0/14 speler – Jadon Gordon

Hy teken 368 lopies aan die seisoen teen ‘n treftempo van 150 lopies per 100 balle en ‘n gemiddeld van 92 lopies per beurt. Dit sluit in tellings van 112 nie uit nie en 107 nie uit nie. In die proses kolf hy vanaf die eerste bal tot die laaste bal van die toegelate 20 beurte. As paaltjiewagter benut hy 7 vangskote. Hy is ook betrokke by 5 uitlope en benut 3 stonk geleenthede.

Krieket Akademie wisseltrofee vir die beste 0/15 speler – Ruan Ball

Die speler teken 222 lopies aan die seisoen teen ‘n treftempo van 200 lopies per 100 balle. Sy kolfgemiddeld is 37 lopies. In die proses teken hy kolfbeurte van 89 van 48 balle en 61 van 16 balle af aan. Hy boul 24 beurte in die seisoen en neem 13 paaltjies teen ‘n boul gemiddeld van 10,4 balle per paaltjie en staan slegs 5,6 lopies per beurt af.

Neels Driescher wisseltrofee vir die beste senior kolwer van die jaar

Rikus Truter wisseltrofee vir die beste senior bouler van die jaar

Piet Strydom wisseltrofee vir die beste senior bouler van die jaar

Henk Fick was gewis ‘n uitblinker en verower al drie trofee. Hy slaan 524 lopies in die seisoen teen ‘n treftempo van 195,5 lopies per 100 balle en ‘n kolfgemiddeld van 87,3. In die proses moker hy 275 lopies van slegs 100 balle teen HTS Tuine asook 3 vyftigtalle.

Hy neem 12 paaltjies die seisoen in die 33 beurte wat hy geboul het. met ‘n boulgemiddeld van 12 balle per paaljie en ekonomie van 4,4 lopies per beurt afgestaan.

Dit was voorwaar ‘n baie goeie seisoen vir PNHS krieket.

Baie geluk aan Jared Davies, Henk Fick en Dehan Martin wat gekies is vir die Grootvlei skolespan wat in Desember vanjaar na Australië gaan toer om in ‘n Internasionale skole toernooi deel te neem. Ons vertrou dat julle PNHS met onderskeiding sal verteenwoordig.

Baie dankie aan ons ouers en ondersteuners wat by ons wedstryde was. U het voorwaar ‘n groot bydrae gemaak tot ons sukses.

Ons sien uit na 2020

Krieket Groete

Mnr Wynand Pienaar - Organiseerder

Terug